Hy is ná afloop van dié kampioenskappe in die WP-span opgeneem wat van 10-13 September by Grand West Casino in Goodwood aan die SA kampioenskappe gaan deelneem. Atlete wat hier in aksie is, kan hul pro-status kaarte verwerf.
Niemand het aan die George Herald gesê dis sy groot droom om gekies te word vir die SA meesterspan, een van vier wat in die verskillende kategorieë aangewys word en wat later vanjaar oorsee aan die wêreldkampioenskappe gaan deelneem.
As mens in ag neem dat Niemand, wat nou maar twee jaar professioneel deelneem, nog 'n relatiewe groentjie is in die hoogs kompeterende sportsoort, lyk sy kanse uitstekend om wel die SA span te haal. Niemand sê hy is al veertien jaar bedrywig in die industrie, maar dat hy in 2012 besluit het om liggaamsbou meer as net 'n stokperdjie te maak.
"Ek wou my graag teen die bestes in my ouderdomsgroep meet en terselfdertyd kyk of ek my land op die hoogste vlak kan verteenwoordig."
Hy sê sonder die hulp en ongelooflike ondersteuning van familie, vriende, mede-atlete, die departement korrektiewe dienste en sy toekomstige vrou, Anzel, sou dit maar geknor het om sukses te behaal.
Maar, deelname op dié vlak verg meer as net harde oefening, sweet en die regte dieet. "Dit raak nou 'n duur speletjie en ek sukkel om op eie stoom my vir die SA's voor te berei."
Hy oefen daagliks by Virgin Active George waar hy wel goeie ondersteuning kry, maar hy soek naarstiglik na borge wat bereid is om hom in sy voorbereiding te help. Besighede of individue wat betrokke wil raak in sy opmars na die SA kampioenskappe, kan vir Niemand op 073 157 5265 bel.

Gebou om te hou. Wayne Niemand warm op voor sy deelname aan die WP-kampioenskappe die afgelope naweek in Bellville. Hy het in die 77 kg-afdeling deelgeneem en met 'n vetpersentasie van slegs 3,1% vir die meestersafdeling aangetree, wat hy gewen het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'