Maar, moenie klubrugby in die SWD se Premierliga as 'n Sondagskool-uitstappie afmaak nie, veral nie as dit 'n plaaslike derby is nie.
Dit is Saterdag op die Pacaltsdorp-stadion weereens bewys toe Evergreens en Progress, die twee voorlopers in die Premierliga, mekaar in 'n titaniese stryd aangedurf het.
Evergreens het dié wipplankryery met 24-17 gewen.
Dit was nou wel nie mooi nie, maar taai en, op sy beste, genadeloos. Derby-rugby op sy allerbeste. Daar loop sweerlik nie 'n enkele siel sonder 'n skeet of blou kol in George rond van die ongeveer 36 spelers wat in aksie was nie.
Asof die stryd tussen dié twee bulle om die leierskap van die Premier-trop nie genoeg was nie, word twee plaaslike derbies die komende naweek afgehandel.
Crusaders en Evergreens pak mekaar in Parkdene terwyl Blanco op sy tuisveld teen Silver Stars te staan kom. En Progress speel in Rosemoor teen verlede jaar se kampioen, Barbarians, wat self op 'n bulstryd kan afstuur.
Rugbyaanhangers van dié klubs sal gewis nie van 'n vervelige naweek nie kan kla nie.
Evergreens het ná sy oorwinning oor Progress die punteverskil tussen dié twee voorlopers na vyf punte laat krimp. Vóór die derby was hy agt punte agter, maar Evergreens het vier punte met die oorwinning verdien terwyl Progress net een kon inoes. Progress spog nou met 33 punte en Evergreens met 28.
Barbarians lê derde op 27 punte en sy twee-stryd Saterdag met Progress wek groot belangstelling. Progress kan nie juis bekostig om te verloor nie, want Evergreens - en natuurlik Barbarians en Crusaders - blaas in sy nek. Dis maar warm op die rugbytroon, soos wat Progress die afgelope tyd uitgevind het. Val hy vas teen Barbarians sal veral Evergreens daarby baat.
Nie dat Evergreens enigsins moet dink hy hoef net op te daag in Parkdene om minstens nog vier punte in te samel nie. Crusaders is 'n trotse klub met 'n paar spelbrekers wat op enige gegewe dag met enige span in die Premierliga kan afreken. In Mbembe Payi het hy 'n giftige angel wat die beste verdediging aan flarde kan hardloop.
Daar's nie veel te kies tussen Blanco (15 punte) en Silver Stars (11 punte) nie, maar op sy tuisveld is Blanco nie almal se speelmaat nie. Dit het Bonnievale so twee weke gelede agtergekom.
Verwag 'n naweek se vuurwarm-rugby - en dalk 'n verrassing of twee. Afskoptye is om 16:00.
Joseph Fortuin, vleuel van Evergreens, is min beweegruimte toegelaat deur die Progress-verdedigers, maar ná een van sy bedrieglike vaartversnellings is hy op die hoekvlag gestuit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'