PADWEDLOOP NUUS - Die Van Kervel-rugbyveld gaan weer Woensdagaand, 18 Februarie, bruis van energie, sweet en goeie gees wanneer die tweede jaarlikse TopGear Van Kervel-padwedlope om 18:00 wegspring.
Ná 'n uiters suksesvolle debuut in 2025, is verwagtinge hoog dat dié gewilde byeenkoms nóg groter getalle hardlopers en stapentoesiaste sal lok.
Die 5 km- en 10 km-wedlope word weer deur die Outeniqua Harriers Multisportklub aangebied en het reeds bekendheid verwerf as 'n sportgeleentheid met 'n unieke, gesellige karakter.
Soos verlede jaar sit TopGear Sport weer hul beste voet voor met hope gelukstrekkings, insluitend aantreklike uitrusting van New Balance, wat beslis 'n groot trekpleister sal wees.
Wat die aand egter besonders maak, is die gasvryheid: elke deelnemer kan uitsien na 'n gratis worsbroodjie en koffie, geborg deur Seattle Coffee - 'n wenkombinasie wat sal bydra tot 'n feestelike atmosfeer terwyl atlete ná afloop ontspan en kuier.
Die prysuitdeling vind om 20:00 plaas en daar sal prysgeld wees vir die wenners in die verskillende kategorieë. Medaljes wag ook op die eerste 500 deelnemers in beide die 5 km-pretloop en die 10 km-padwedloop.
Inskrywings kan aanlyn gedoen word by www.aswd.co.za tot Maandag 16 Februarie om 08:00.
Belangstellendes kan ook per hand inskryf by TopGear Sport in Meadestraat tot Dinsdag 17 Februarie. Vir laatslapers is daar inskrywings beskikbaar by Van Kervel se rugbyveld op die dag self, vanaf 16:30 tot 17:45.
Vir meer inligting, kontak Annegret Pauw by 082 776 0694.
Met goeie sport, lekker pryse en 'n warm gemeenskapsgees op die spyskaart, beloof hierdie weer 'n Woensdagaand wat lank onthou gaan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’