GEORGE NUUS - Nadat 'n motorfietsongeluk Shaun Butler byna 'n dekade gelede met 'n rugmurgbesering gelaat het, het hierdie inspirerende 33-jarige sy fokus verskuif na sport wat hom in staat stel om as paraplegiese atleet uit te blink.
Hy het sy ysterperd vir 'n driewielrenstoel verruil, want Shaun het geweier dat sy veranderde omstandighede hom definieer.
Eerste aan die beurt was handfietswedrenne, waarna hy hom tot liggaamsbou gewend het. Sodoende het hy nie net sy teëspoed die hoof gebied nie, maar ook hierdie uitdagende sportdissiplines ordentlik bemeester.
“Ek oefen en kompeteer al vir sowat 18 maande in liggaamsbou, sedert Julie 2022. Voor dit het ek CrossFit en handfietsry aangepak, waarin ek belanggestel het ná my eerste Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in 2015, toe ek vir Pieter du Preez vir die eerste keer ontmoet het,” vertel Shaun.
Du Preez het vanjaar weereens vir die OCC ingeskryf, en is een van die sport se helderste sterre. Hierdie bekende gesig by die OCC het goud in die 2020 Paralimpiese Spele in Japan verower, en was die eerste kwadrupleeg ooit om 'n volle Ysterman te voltooi.
“Dit was 'n wonderlike ervaring wat my aan die sport blootgestel het, want ek was toe nog nuut op die toneel en het nie veel geweet van beskikbare opsies nie. Dit is vir my moeilik om 'n gunsteling aktiwiteit te kies, want ek is baie entoesiasties oor elk van die sportsoorte waaraan ek deelneem,” verduidelik Shaun.
Sy toewyding en dissipline het bewys hy weier dat liggaamlike beperkings in sy pad staan, en hierdie ingesteldheid dien as inspirasie vir talle mense wêreldwyd. 'n Voorbeeld van sy erns in dié verband is die vinnige pas waarteen Butler daarin geslaag het om opgang te maak in liggaamsbou geledere.
Na lang ure in die gimnasium om sy lyf voor te berei en die kuns van liggaamsbou te bemeester, het Butler die afdeling vir gestremdes gewen by die Physical Culture Association (PCA) se Battle of the Titans wat verlede Julie in die Kaap gehou is.
Hy is toe gekies om in September aan die PCA SA kampioenskappe in Pretoria deel te neem, en op grond van sy prestasie by hierdie nasionale byeenkoms, het hy na Spanje gereis vir die PCA Wêreldkampioenskappe in November, waar hy 'n derde plek behaal het.
“Die uitstappie na Malaga was ongelooflik, want dit was my eerste internasionale blootstelling aan 'n sportsoort wat my motiveer en die dryfkrag gee om vorentoe te beweeg. In Spanje het ek net weer besef dat, ongeag jou omstandighede, jy altyd jou doelwitte kan bereik. Toewyding en motivering is sleutelfaktore,” glo Shaun.
Terug op die onderwerp van OCC24 bring hy hulde aan Esther Watson, stigter van die Disabled Road Race Foundation (DRRF).
Die stigting het in die vroeë 2000’s ontstaan met Watson as hoofdryfveer. Sedertdien het die DRRF jaarliks die OCC aangebied – tans die enigste wedren in Suid-Afrika wat eksklusief voorsiening maak vir renstoele.
“Ek neem al sedert 2015 deel aan die OCC en het net een jaar gemis weens Covid, so vanjaar sal my agtste wedren wees.
"Ek is sedert 2018 betrokke by die DRRF en organisering van die byeenkoms, wat vanjaar sy 20ste bestaansjaar vier en vandag een van die mees gesogte rolstoelgeleenthede in Suider Afrika is.”
Gegewe sy belangstelling in ‘n blinknuwe sportsoort, sê Butler dat hy vanjaar slegs die 21,1 km-handfietswedren gaan aanpak.
Daar is ook 42,2 km- en 10 km-roetes, sowel as 'n 5 km-pretwedren, en 'n kaskarafdeling vir besighede wat belangstel in uitgebreide blootstelling en 'n uitstekende spanbougeleentheid.
Twee kategorieë in die mededingende afdeling is oop vir kwadrupleë en parapleë en subkategorieë maak voorsiening vir mededingers afhangende van die tipe stoel wat gebruik word. Dit sluit in resiesstoele, handfietse, basketbalstoele en meer.
Raak betrokke
As jou besigheid betrokke wil raak of jy kan help as vrywilliger by die OCC se sentrale punt by Carpe Diem Skool op Vrydag 23 Februarie en Saterdag 24ste, kontak vir Alewijn Dippenaar by dyndev@mweb.co.za of 082 457 5675.
Shaun het 'n laaste woord van motivering vir diegene wat dit nou oorweeg om in te skryf: "Ek nooi alle mense met gebreke uit, veral as jy op soek is na 'n nuwe uitdaging en deel wil word van 'n wonderlike gemeenskap, om nie te praat van die uitstekende gesondheidsvoordele nie. Sluit by ons aan vir ‘n prettige en onvergeetlike ervaring."
Borge van vanjaar se OCC is George-munisipaliteit as voorste vennoot, bygestaan deur Lancewood, Safari, Eden-sportraad, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die Premierkantoor, en Algoa FM.
Bel vir Shaun Butler by 083 701 8387 vir bykomende inligting.
Shaun Butler is ook 'n kranige liggaamsbouer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’