GEORGE NUUS - Blanco-gemeente se gewilde jaarlikse bergfiets- en hardloopuitdaging het 'n splinternuwe baadjie gekry. Die bekende Tour de Farm is herdoop na Toeri Plaas, en die organiseerders is opgewonde oor die nuwe roetes en afstande wat vir die 2026-uitgawe beplan is.
Die 2026 Toeri Plaas Challenge vind plaas op Saterdag 18 April en deelnemers sal binnekort kan inskryf.
Hardlopers kan kies tussen 5 km-, 11 km- en 21 km-afstande, terwyl fietsryers kan deelneem aan die 11 km, 22 km, 35 km en 57 km berg- en grondpadfietsroetes.
Hierdie jaar vier die gemeente ook sy 75ste bestaansjaar, en daar word vir die eerste keer 'n spesiale 75 km-roete aangebied. Elektriese fietse kan ook ingeskryf word. 'n Nuwe toevoeging vir 2026 is 'n skopfietsbaan vir jong kinders.
Al die roetes begin by die 4 Brothers Aartappelstoor, en neem atlete oor privaat plaaspaaie in die Blanco-, Geelhoutboom- en Jonkersberg-omgewing.
Die uitdagende roetes lei hulle deur die berg, oor plaas- en grondpaaie, deur 'n ou stal en selfs oor 'n damwal.
Daar is volop waterpunte, en lekker eet- en drinkgoed beskikbaar. Deelnemers en ondersteuners kan hulle verkwik met pannekoek, burgers, boereworsrolle en meer.
Die organiseerders werk saam met Chain Gang Events om te verseker dat die uitdaging vir almal 'n geslaagde en opwindende ervaring word.
Fietsryers kan deelneem aan die 11 km, 22 km, 35 km, 57 km en vanjaar se nuwe 75 km-roete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’