STREEKNUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB), in samewerking met die plaaslike koöperasie, het ’n geslaagde skietdag op die plaas Soetmelksrivier, buite Riversdal aangebied.
Die kompetisie is aan die begin van Maart oor ses bane beslis, drie met ghongs (staalplate) en drie met papierteikens wat lewensgrootte wildsbokke voorgestel het.
Die dag is tot in die fynste besonderhede beplan, maar geen hoeveelheid beplanning keer egter 'n reënbui nie - dié het die papierteikens vernietig.
Die kompetisie het egter steeds voortgegaan en die wenners is bepaal deur net die ghongbane se tellings te gebruik.
Skuts het van heinde en ver opgedaag om aan die kompetisie se verskillende afdelings deel te neem.
Bo en behalwe die wenpryse is daar ook verskeie gelukstrekkings gehou vir die persone wat nie ’n prys kon losskiet nie.
Al die pryse is deur die koöperasie geborg en ’n verteenwoordiger, André Wentzel, het die verrigtinge bygewoon.
Die verskillende afdelings se uitslae was as volg (eerste, tweede en derde onderskeidelik):
Ope: Martiens Bekker, Hein de Swardt en Jacques du Plooy.
Vroue: Zandri Terblanche, Ronèl Marx en Mariette Geldenhuys.
Veterane: Niël Basson, Arthur Lilford en Gert van Wyk.
Juniors: Christoff Delport, Franco Stapelberg en Hendré Geldenhuys.
Wynand Fourie saam met die vrouewenner, Zandri Terblanche.
Die SJB-bestuur het die borg bedank vir hul betrokkenheid oor die jare waardeur hulle skietsport in die Suid-Kaap help uitbrei.
Die vereniging het ook die baanoffisiere bedank wat onder moeilike omstandighede moet sorg dat veiligheid altyd gehandhaaf word.
"Dankie ook aan die Van Wyks wat hulle plaas beskikbaar gestel het om die kompetisie aan te bied, en vir die hand bysit met die opstel van die bane."
Op 12 April vind die baie gewilde veldskiet naby Oudtshoorn op die plaas Nooitgedag plaas.
Vir meer inligting oor SJB se aktiwiteite, skakel 044 695 2319, of besoek hul Facebook-blad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’