Smitties en The Butcher Boys was gesamentlik eerste op die punteleer met die aanbreek van die eindstryd. Die slaghuisspan het 'n goeie voorsprong opgebou, maar Smitties se manne het koelkop gebly, die agterstand ingehaal en uiteindelik as oorwinnaars van die baan gestap.
The Butcher Boys moes met die derde plek tevrede wees terwyl span Digifusion, wat ook deurentyd bestendig vertoon het, die naaswenners was.
Die toernooi was weer 'n reusesukses met 'n vol veld van 28 spanne wat hul slag gewys het.
Ná die laaste ronde van die toernooi het elkeen van die 112 spelers 'n prys ontvang.
Pierre Stander, organiseerder, het namens die Outeniqua-rolbalklub al die borge en deelnemende spanne vir hul bydrae bedank. Die toernooi, wat oor ses weke aangebied is, is met 'n steakbraai afgesluit.
Nou sien die spelers uit na die Somerliga. Die afskop sal later aangekondig word.

Die borge van die toernooi saam met die kampioenspan, Smitties Nr Plates, afgeneem. Hulle is van links (agter): Greg Young (Outeniqua-rolbalklub), Marius Esterhuizen (hoofborg) en Sampie Bezuidenhout (borg). Die spanlede is van links Gideon Swart, Neil Abrahamson, Johan Smit en Deon Swart.

The Butcher Boys se span wat in die eindstryd geklop is, saam met organiseerders en borge. Van links: Greg Young (Outeniqua-rolbalklub), Tony Raschbichler, Gerhard Streicher, Johan Olivier, Sampie Bezuidenhout (borg), Johan Naude en Johan Meyer (Outeniqua-rolbalklub).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'