GEORGE SPORTNUUS - Skole in George maak gereed om weer sport op mededingende vlak aan te bied, maar daar is vraagtekens en selfs kommer oor die toepassing van die streng regulasies wat deur die departement van basiese onderwys aangekondig is.
Die nuwe regulasies maak ook voorsiening vir die aanbied van ander aktiwiteite soos kultuuraangeleenthede. Die regulasies het streng vereistes, onder meer dat geen toeskouers by sportgeleenthede toegelaat mag word nie.
Ingeligtes het aan George Herald gesê die groot uitdaging gaan wees om die onderwys te beskerm. In 'n klaskamersituasie is dit makliker om kontrole te hou.
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, het Maandag gesê sport- en kultuuraktiwiteite sal aangebied word onder streng Covid-19-regulasies. Dit sluit in rugby en netbal. Ongelukkig sal ouers dit nie kan bywoon nie omdat geen toeskouers teenwoordig mag wees nie.
Robert Grootboom, hoof van Delville Park Primêr, het gesê die skool gaan beslis sport aanbied en daar word gekyk na watersport wat veiliger is in die huidige omstandighede. Geen finale besluit is nog geneem nie en dit sal geskied in oorleg met die beheerliggaam.
Volgens hom is sport belangrik vir kinders. Dit help met sosialisering en as kinders deelneem aan buitemuurse aktiwiteite help dit met hul akademie. Dit hou hulle gefokus.
Van die kinders is op die oomblik gefrustreerd. "As ons wil hê die kinders moet byvoorbeeld wegbly van booswigte, dan moet ons hulle iets gee om te doen. Buitemuurse aktiwiteite is een van daardie metodes."
Sas du Plessis, hoof van Laerskool George-Suid, het gesê hy verwelkom die aankondiging. Dit bied uitkoms vir kinders wat smag na sport en kultuur. Die beplanning vir die volgende fase by die skool begin nou.
Aldrin Manuel, onderhoof van Pacaltsdorp Primêr, het dit verwelkom, maar gesê daar is nog vrae oor kontaksport. Kinders moet aan sport deelneem en die personeel van die skool sal in die dae besin oor watter sportsoorte aangebied kan word. Van die sportsoorte wat oorweeg sal word is byvoorbeeld hokkie, krieket en landloop.
Kobus Koekemoer, waarnemende hoof van die Hoër Tegniese Skool Eden (HTS Eden) het gesê die skool kyk na die moontlikhede om sport en ander aktiwiteite op 'n sekere vlak aan te bied om die leerders, onderwys en onderrig te beskerm.
Derick Petersen, hoof van Parkdene Sekondêr, het gesê versigtigheid is die vertrekpunt by die skool oor die aangeleentheid. Die skool verwelkom dit, maar die eerste prioriteit bly die akademie.
Dennis Symes, hoof van Glenwood House, het gesê hy verwelkom die aankondiging. "Ons sien daarna uit om verhoudinge met ander skole te hervat." Die deelname maak voorsiening vir sport en kultuur en daar sal voldoen word aan die vereiste regulasies.
Volgens hom is buitemuurse aktiwiteite belangrik vir kinders se fisieke, verstandelike en emosionele ontwikkeling.
Lees in die staatskoerant
Die staatskoerant waarin na die aankon-diging verwys word is gratis beskikbaar aanlyn by 6 No. 44339 GOVERNMENT GAZETTE, 27 March 2021 4.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'