Video
ATLETIEK NUUS EN VIDEO - Suid-Afrika het die atletiektalent, maar aandag sal gegee moet word aan aspekte soos om te luister wat die atlete se behoeftes en ondersteuningsprogramme is. Dit is die boodskap van Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD.
Noble, 'n inwoner van George, het verlede week teruggekeer van Boedapest, Hongarye waar sy die wêreldatletiekkampioenskappe bygewoon het. Ongelukkig het nie een van die 36 atlete 'n medalje huis toe gebring nie en word vrae nou gevra oor die pad vorentoe. Die Olimpiese Spele vind aanstaande jaar in Parys, Frankryk plaas.
In 'n onderhoud met George Herald het sy gepraat oor wat sy in die aanloop en tydens die kampioenskappe beleef het en die pad vorentoe.
Sy het eers die bestuursvergadering van wêreldatletiek bygewoon wat van 16 tot 18 Augustus in Boedapest gehou is. Daarna was sy teenwoordig vir die kampioenskappe wat van 19 tot 27 Augustus gehou is.
Norma Nonkonyana,addisionele bestuurslid van ASA, Sam Ransammy, Suid-Afrikaanse sportadministrateur en Shireen Noble, vise-president van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD, in Boedapest Hongarye.
Tydens die kampioenskappe is meegeding in baan en velditems soos hardloop, gewigstoot, paalspring, verspring, hamergooi en spiesgooi. Onder die deelnemers was twee atlete, Mirè Reinstorf en Jo-Anne van Dyk, wat oorspronklik van George kom.
Dit was die derde keer dat Noble 'n wêreldkampioenskap bygewoon het. In die verlede was sy ook al teenwoordig by Afrika-kampioenskappe en jeug wêreldkampioenskappe.
VIDEO - Shireen Noble, vise-president van Atletiek SA en president van SWD Atletiek, het die wêreldatletiek kampioenskappe in Boedapest, Hongarye bygewoon. Sy vertel meer.
Video: Eugene Gunning
Daar is by haar geen twyfel dat die kampioenskappe in Boedapest die beste is wat sy nog bygewoon het nie.
"Londen se kampioenskappe was goed, maar Boedapest beslis die beste. Dit was baie goed georganiseerd."
Op die vraag of sy dink Suid-Afrika sal in die toekoms so 'n kampioenskap kan aanbied het sy gesê: "Dis moontlik maar daar sal nog baie werk gedoen moet word. Die aanbied van so 'n geleentheid verg infrastruktuur."
Oor Suid-Afrika se deelname aan die onlangse kampioenskappe het sy gesê natuurlik is hulle teleurgesteld. Daar was vooraf groot verwagtinge.
Shireen Noble, vise-president van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD en Mirè Reinstorf, Suid-Afrikaanse paalspringer by die kampioenskappe in Boedapest, Hongarye.
Die probleem is nie talent nie. Suid-Afrika beleef 'n oorgangsfase en daar is van die atlete wat die eerste keer aan die senior wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Daar het van die atlete die eerste keer teen van die groot name meegeding.
Volgens haar moet geluister word na wat die atlete se behoeftes is en ondersteuningsprogramme moet aandag kry.
Een van die uitdagings is dat die meeste Suid-Afrikaanse atlete atletiek nie as 'n voltydse beroep beoefen nie en nie 'n salaris ontvang nie. Daar sal gekyk moet word hoe atlete gehelp kan word omdat deelname op daardie vlak baie tyd verg.
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’