SPORT NUUS - 'n Groep plaaslike gimnaste het die afgelope maande hard gewerk en kreatief fondse ingesamel om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Region 5 Gimnastiek-kompetisie wat in Desember in Namibië plaasvind.
Die gimnaste is Amaris Kirchner (12) en Melienke Botha (11) van Live Gymnastics Academy, asook Keon Botha (10), Katelyn Botes (15) en Mia Terblanche (16) van SKAT-gimnastiekklub.
Atlete van regoor Suid-Afrika moes streng kwalifikasievereistes haal om vir hierdie internasionale byeenkoms te kwalifiseer. Die plaaslike groep het in tuimel, springmat en/of double mini-springmat gekwalifiseer en sal teen agt ander lande meeding.
Elke deelnemer dra hul eie reis-, verblyf- en kompetisiekoste, wat sowat R20 000 per gimnas beloop. "Ons kort egter nog heelwat fondse," sê Lousanne Terblanche, afrigter by SKAT-gimnastiek.
"Ons hou tans lootjieverkope met baie lekker pryse. Die trekking vind Vrydag 28 November by die klub plaas, en kaartjies kan steeds aanlyn gekoop word."
Terblanche is self as beoordelaar vir die kompetisie gekies, terwyl haar dogter, Mia, een van die deelnemers is. "Dit is vir my besonder spesiaal, want dit is slegs die tweede keer dat 'n ma en dogter van dieselfde klub saam na so 'n internasionale byeenkoms reis as beoordelaar en deelnemer," sê sy.
Die eerste keer was in 2014 toe Lyla Young (beoordelaar) en haar dogter, Gillian Young (gimnas), van SKAT saam na Region 5 gereis het. Lyla Young was ook Terblanche se afrigter 36 jaar gelede.
Lousanne Terblanche (links) is self as beoordelaar vir die kompetisie gekies, terwyl haar dogter, Mia, een van die deelnemers is.
Die groep vertrek op 8 Desember na Namibië en neem op 9 Desember deel. Enige donasies is welkom en gaan direk na die gimnaste se onkostes.
Om 'n lootjie te koop of die span te ondersteun, skakel Terblanche by 082 898 3608 of volg die skakel https://forms.gle/o2PytziSadpQgNyeA.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’