SUID-KAAP SKUTNUUS - Die Protea-jaggeweerskietspan met agt lede van Eden-jaggeweerskiet wat deel van die span uitmaak, het uitstekend in 'n toets teen Namibië gevaar deur drie van die kategorieë te buit.
Die Proteas se span het die president-, dames- en junior afdelings gebuit met net die mans A-span wat nie die pyp kon rook nie.
Vir die Proteas was die terrein en omstandighede redelik vreemd en hulle moes gou aanpas om kompeterend te wees. Eden-jaggeweerskiet is deur nie minder as agt skuts verteenwoordig in hierdie toetsreeks, met een lid in die senior Proteaspan, twee mans in die Presidentspan, drie dames in die Protea-vrouespan en twee juniors in die Protea juniorspan. Christo Delport, Junita van Zyl, Leras van Zyl, Anita Butler, Manus Moolman, Marietha Moolman, Anlo Ferreira, Jacques du Plooy.
Uitslae:
- Mans A-spanne: Namibië 8 804.9, SA 8 611.2.
- Presidentspanne: SA 8 610.2, Namibië 7 507.8.
- Vrouespanne: SA 6 934.1, Namibië 5 262.4.
- Juniors: SA 7 922.6, Namibië Ontwikkeling 4 973.5.
Die skiettoets het by die Heja Lodge buitekant Windhoek plaasgevind waar .223-, mans-, dames- en junior- kategorieë mekaar aangedurf het. Die geleentheid is die eerste aand met 'n inhuldigingsfunksie van al die skuts wat die eerste keer hul land in nasionale skietkleure verteenwoordig gehuldig is.
Met die alombekende gasvryheid van die Namibiërs het die vure hoog gebrand en is die Suid-Afrikaners hartlik welkom geheet. Die reeks is afgesluit met 'n formele funksie waar die medaljes toegeken is.
Die volgende byeenkoms vir die Eden-skuts is die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat einde Mei in die Oos-Kaap plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'