GEORGE NUUS - Groot opgewondenheid heers onder atletiekgeledere vir Rainbow-atletiekklub se jaarlikse Palm Tyres 10 km- en 5 km-wedlope wat Saterdag 15 Junie aangebied word. Hierdie gesogte wedlope word vanjaar vir die 27ste keer aangebied.
Met groot belangstelling sal veral na die vertoning van Lloyd Bosman gekyk word, wat op 14 April tweede in die Twee Oseane-marathon geëindig het. Hy kan egter sterk kompetisie verwag van veral sy spanmaats: Selwyn Matthews, Francois Maquassa, Sam Mandlazi en Willard Jussa om net 'n paar te noem.
Afwagting is ook groot vir veral die 10 km-wedloop waar 'n moontlike tyd van onder of naby 29 minute verwag word.
Die vroueafdeling beloof ook groot opwinding met die gunsteling Melissa van Rensburg wat moontlik met die louere kan wegloop. Aangesien die wedloop oor 'n redelike plat roete beslis sal word, word 'n groot aantal atlete verwag.
Aanlyn-inskrywings mag tot Woensdag 12 Junie gedoen word en laat inskrywings kan op Vrydag 14 Junie vanaf 18:00 tot 20:00 by Palm Tyres gedoen word. Die inskrywingsgeld is R75 vir die 10 km en R30 vir die 5 km. Die wedloop sal onder die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Atletiek SWD plaasvind. Geen oorfone sal tydens wedloop toegelaat word nie en atlete wat die reël breek sal onmiddellik gediskwalifiseer word.
Die 10 km-wedloop begin Saterdagoggend om 08:00 by Palm Tyres in Courtenaystraat en die 5 km-wedloop om 08:10. Atlete moet met hul 2024 permanente nommers deelneem, anders moet hulle tydelike nommers koop om deel te neem.
Palm Tyres en Rainbow-atletiekklub sal gelukstrekkings tydens die prysuitdeling hou. Aansporingspryse in die 10 km-wedloop sal ook toegeken word. Die eerste persoon om 'n sub-29 minute tyd te hardloop kry R2 000 en die eerste persoon onder 30 minute kry R1 000.
'n Beroep word gedoen op atlete om gebruikte hardloopskoene aan minder-bevoorregte atlete te skenk. Hierdie kan Saterdag by die registrasietafel afgegee word.
Sidwell Oktober, voorsitter van Rainbow-atletiekklub, sê hulle sien uit om atlete Saterdagoggend te ontvang. Coca-Cola sal ook met hulle musiekwa 'n feestelike atmosfeer skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’