GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se atletiekspan het rede om te pronk aangesien hulle die eerste span is wat vir vier jaar agtereenvolgens die Top-10-byeenkoms in Bredasdorp kon wen en boonop nog 'n nasionale rekord opstel.
Hulle kan nou opreg daarop aanspraak maak dat hul tans die grootste uitstalproduk van die Kwaggas is.
Kwaggas het 9 443 punte op Atletiek Suid-Afrika se puntetabel verdien gevolg deur Paarl Gimnasium 8 978, Durbanville
8 744, Grey Kollege 8 692, DF Malan 8 617, Hoërskool Brackenfell 8 607 en Worcester Gimnasium 8 489.
Daar het oor die 900 atlete van 55 skole aan die byeenkoms deelgeneem.
Outeniqua se atlete het sewe eerste, nege tweede en vier derde plekke behaal en ook drie nuwe byeenkomsrekords opgestel.
Meike Strydom het haar droom verwesenlik met haar nuwe amptelike Suid-Afrikaanse rekord in gewigstoot vir dogters 17 jaar met 'n puik afstand van 17,75 m.
Strydom het die SA rekord van Lezaan Jordaan van 17,52 m, wat sy op 30 Maart 2012 in Germiston opgestel het, verpletter.
Die Kwagga het met die prestasie 982 punte op ASA se puntetabel verdien.
"Dit was 'n groot droom wat waar geword het. Dit is net die Here wat my die nodige krag gegee het om dit reg te kry en ek sal Hom vir ewig dankbaar wees. Sonder my afrigter en ondersteuners sou dit ook nie moontlik gewees het nie," het Meike na die byeenkoms aan die George Herald gesê.
Die Kwaggas se altetieksterre wat tydens die Top-10-byeenkoms geskitter het, is van links Hanno du Plessis, Meike Strydom en Stefan van Wyk. Foto: André Stander
Strydom is aangewys as die beste dogters- atleet in haar ouderdomsgroep op die baan en veld asook die beste dogtersatleet van die dag.
Nog 'n Kwagga, Hanno du Plessis, het 'n uitsonderlike prestasie behaal toe hy die hamergooi vir seuns 17 jaar in 'n nuwe byeenkomsrekord en persoonlike beste afstand van 68,84 m gewen het.
Met die gooi verdien hy 1 045 punte.
Hanno het ook die gewigstoottitel met 'n afstand van 14,92m gebuit (778 punte). Hy is 'n gr. 11-leerder wat nog oor die potensiaal beskik om nog baie rekords te laat spat.
Du Plessis, wat ook SA skole en SA jeugkampioen is, is aangewys as die beste seuns 17 jaar atleet, beste algehele seunsatleet en algehele beste atleet van die Top-10-byeenkoms.
Stefan van Wyk, wat tans goed op stryk is, het 'n byeenkomsrekord wat in 2002 opgestel is in die 400 m vir seuns 17 jaar laat spat met 'n vinnige tyd van (49:58). Met die prestasie het hy 876 punte verdien.
Van Wyk het verlede week in Bloemfontein ook uitstaande prestasies behaal toe hy die 200 m in (21:66) en die 400 m in (49:82) gewen het.
Ander Kwagga-atlete wat eerste plekke behaal het:
Dogters 14: Lane Coetzee –
90 m hekkies (13:90).
Dogters 15: Stephany Petro –
1 500 m (5:13.41).
Seuns 15: Gustav Schlehter –
1 500 m (4:26.49).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'