GEORGE TAFELTENNIS NUUS - Die Suid-Afrikaanse tafeltennis-kampioenskappe word vanjaar vir die eerste keer in die Suid-Kaap aangebied.
Dié toernooi, waaraan 659 van die land se beste tafeltennisspelers gaan deelneem, sal van 22 tot 28 September by die De Jager-sportkompleks op Oudtshoorn gehou word.
Al die distrikte in al nege provinsies in SA stuur hul topspelers en deelnemers van Botswana, Zimbabwe en Namibië sal ook in aksie wees.
Die SWD, tans in die top-16 in die land, het 'n span van 40 juniors en seniors wat deelneem. Die SWD se hoop is, onder andere, gevestig op sy nommer een manspeler, Garshen Williams, om onder die wenners te eindig. Dis 'n groot pluimpie in die Eden-tafeltennisvereniging se hoed dat hy slegs drie jaar ná sy totstandkoming kans kry om gasheer te speel vir die SA's.
Die SA's is die vlagskipbyeenkoms van die SA tafeltennisvereniging (SATTV) en bied aan die betrokke gasheer en plaaslike borge wye blootstelling.
Veral vir 'n plek soos George wat nie juis noemenswaardige sportbyeenkomste meer aanbied nie, is die SA's 'n gulde geleentheid om die dorp na buite te bemark en George se visie stukrag te gee om hom as die Suid-Kaap se voorste bestemming vir die aanbied van sportbyeenkomste van die omvang te vestig. Die groot gros deelnemers (659) - en dit sluit nie eens die afrigterspanne en -bestuur, ondersteuners en familielede in wat vir 'n week hier sou tuisgaan nie, kon 'n aardige bedrag in George se plaaslike ekonomie ingepomp het.
Gelukkig ly die Oudtshoorn-munisipaliteit nie aan tonnelvisie nie en het hulle die geleentheid met ope arms aangegryp. Vir 'n borgskap van slegs R20 000 borg hulle, saam met die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur (DKAS), die SA's en kry hulle kans om die Volstruisdorp se naam weer dwarsoor SA uit te dra.
Die openingseremonie is op Saterdag 21 September en die SA's begin op Sondag 22 September om 09:00 met die dubbelspelwedstryde. Deelnemers sal op 14 tafels speel.
Die uitkloprondes neem op Donderdag 26 September in aanvang en al die eindstryde word op Saterdag 28 September afgehandel waarna die Proteaspan aangewys sal word.
Toegang is gratis en daar sal deurlopend kosstalletjies wees.
Beamptes en spelers van die Eden-tafeltennisvereniging wat van 22 tot 28 September aan die Suid-Afrikaanse tafeltenniskampioenskappe op Oudtshoorn gaan deelneem. Die SA's word vir die eerste keer in die Suid-Kaap aangebied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'