GEORGE NUUS - Die Suid-Afrikaanse paalspringrekord vir vroue, wat al bykans 19 jaar op die rekordboeke staan, gáán verbeter word.
Elmarie Gerryts het dié rekord van 4,42 m op 12 Junie 2000 in Wessel, Duitsland opgestel.
En dis dié rekord wat nou in die visier is van die 16-jarige Miré Reinstorf van George.
Die gr. 11-leerder van Hoërskool Outeniqua het weer onlangs haar talent onderstreep deur by die SA jeug- en SA senior atletiekbyeenkoms in Germiston goue medaljes in die paalspring te verower.
Dis veral haar wenhoogte van 3,80 m by die senior SA's wat plaaslike atletiekmense aan die praat het.
Met die hoogte het sy haar onderskei as een van SA se belowendste junior atlete.
Jacques Wolfaardt, haar afrigter by die Kwaggas, glo onwrikbaar in haar vermoë om die SA rekord binne vier of vyf jaar te verbeter.
"'n Paar faktore laat Miré uitstaan: sy het die talent, is plat op die aarde en sy is ongelooflik toegewyd in alles wat sy aanpak. Benewens haar atletiekprestasies is sy akademies sterk en blink sy ook uit in musiek en gimnastiek."
Miré is onlangs ingesluit in die SA span vir die senior Afrika-spele.
Miré Reinstorf van George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'