GEORGE NUUS - Die plaaslike downsindroom-swemmer Minke Janse van Rensburg het die Bombela Swem Suid-Afrika-toekenning as vroue paraswemmer van die jaar by 'n glansryke funksie in Johannesburg ontvang.
Haar pa, Hennie, het laat weet Minke het die funksie verlede naweek terdeë geniet en super gemotiveerd teruggekeer.
"As ouers is ons dankbaar dat sy erkenning kry vir haar harde werk, en ons is dankbaar teenoor Bombela Concession Company wat die byeenkoms geborg het," het hy gesê.
Die nominasie volg ná 'n uitsonderlike jaar vir hierdie 21-jarige ster, wat beide nasionale en internasionale kompetisies oorheers het.
Tussen September 2024 en Augustus 2025 het Minke 14 wêreldrekords verbeter in die Virtus II2 (S18)- en Dsiso-kategorieë, 'n indrukwekkende hoeveelheid medaljes ingepalm by groot byeenkomste, en gestyg tot die voorste II2-vroue-langbaanswemmer ter wêreld.
By die SASA-II Nasionale Kampioenskap het sy 12 goue medaljes verower en is as die beste algehele swemmer aangewys. By die Virtus Wêreldswemkampioenskap in Bangkok het sy in al 11 van haar items medaljes verower, insluitend ses goues.
Twee goues om haar nek! Minke het 'n ongelooflike jaar agter die rug. Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’