Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Alle paaie lei die naweek na George wanneer Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) se sportnaweek aangebied word. Dit is die grootste sportfees in die skool se geskiedenis en is deel van die skool se eeufeesviering.
Dit is moontlik ook een van die grootste skolesportgeleenthede ooit in George. Altesaam 2 500 deelnemers van 24 skole vanoor Suid-Afrika gaan meeding in rugby, netbal, hokkie, tennis en muurbal. Dit sluit in 66 rugbyspanne, 42 netbalspanne en 24 hokkiespanne.
Die Eeufees-sportdag skop reeds môre, Vrydag 17 Maart, om 11:00 met die eerste hokkiewedstryde op Outeniqua se astrobaan af. Tennis en muurbal teen Hoërskool Stellenberg vind ook môre vanaf 14:30 tot 18:00 plaas.
Saterdag begin die rugby, netbal en hokkie om 08:00 op Outeniqua en Van Kervel se sportterreine.
Dit bereik 'n hoogtepunt om 16:00 wanneer die Kwaggas en Noordheuwel van Krugersdorp se eerste rugbyspanne kragte meet.
Lindi Liebenberg, sosiale media en mediaskakelbeampte van die skool, bygestaan deur Piet Cloete, adjunkhoof: sport, het Maandag meer besonderhede verskaf.
VIDEO: Kwaggas hou sportfees
Buiten die deelnemers, sal die spanne vergesel word van afrigtingspanne en na verwagting ook talle ouers en ondersteuners. Verblyf is die naweek bitter skaars in George.
Toegangsgeld beloop R20 per persoon. Leerders in skooldrag is gratis.
Liebenberg en Cloete het benadruk dat alle toeskouers welkom is ongeag of hulle 'n direkte verbintenis met die skool het.
"Die doel van die dag is om die skool se Eeufees te vier deur sport en leerders vanoor die land deel te maak van die feesvieringe in 2023. Al die skole met wie ons 'n lang verbintenis het, is genooi. Ons sorg dat hulle waardige opponente het om teen te speel. "Ons is nederig dankbaar teenoor al die skole wat saam met ons die verjaardag kom vier," het Cloete en Liebenberg gesê.
Daar sal heerlike eetgoed te koop wees. Hulle het Grow Green Organics, die hoofborg, Van Rensburg Foods wat die funksies borg en ander borge bedank vir hul hulp.
Volgens ingeligtes kan sulke geleenthede 'n groot hupstoot vir die plaaslike ekonomie wees. Die plaaslike gasvryheidsbedryf word bevoordeel en van die besoekers bestee ook geld op byvoorbeeld brandstof en voedsel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'