Gallery
GEORGE NUUS - Terwyl ander matrikulante hul naweek deurgebring het agter boeke of by sportvelde, het Lizaan Brand 'n ander soort uitdaging aangepak - een wat haar naam vir altyd in Suid-Afrika se atletiekgeskiedenis sou vestig.
Die 18-jarige leerder van Hoërskool Outeniqua het op 3 Mei die onmoontlike moontlik gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaanse skoolmeisie geword het om die manstienkamp suksesvol te voltooi.
Hierdie elite-veelkamp, bekend as die Ysterman van Atletiek, strek oor twee dae en toets die absolute limiete van 'n atleet se liggaam en gees.
Die tienkamp bestaan uit tien uitdagende items:
- Dag 1: 100 m, verspring, gewigstoot, hoogspring, 400 m
- Dag 2: 100 m hekkies, diskusgooi, paalspring, spiesgooi, 1 500 m
Hoewel vroue internasionaal wel aan die tienkamp kan deelneem, word dit plaaslik steeds as 'n mansitem erken. Dit maak Lizaan se deelname, en veral haar voltooiing, 'n reusesprong vir vroue in sport.
"Ek is al dikwels vertel ek is goed met alles, maar meester van niks," vertel sy met 'n glimlag. "Maar ek het later besef die res van die gesegde is die belangrikste deel - 'maar dikwels beter as meester van een'. Ek het iets gehad om te bewys. Hierdie naweek het ek dit gedoen."
FOTOGALERY: Kwagga tiener maak geskiedenis in tienkamp
En sy het nie net vir haarself bewys sy kan nie - sy het die hele veld en paviljoen geïnspireer. Van beamptes tot toegewyde meestersatlete, almal het haar moed en deursettingsvermoë bewonder.
Sommige atlete het selfs aangekondig dat hulle haar voorbeeld wil volg en self die tienkamp sal aanpak tydens die volgende SAMA-kampioenskap.
Die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiek (SAMA)-organiseerders het ook lof verdien vir hul ondersteuning. Hulle het nie net vir Lizaan die geleentheid gebied nie, maar verseker dat haar uitslae amptelik aangeteken is - 'n belangrike stap in die rigting van meer inklusiwiteit in plaaslike sport.
Lizaan se merkwaardige prestasie is die resultaat van harde werk en die ondersteuning van toegewyde mentors.
Lizaan tydens die onderskeie items waaraan sy in die tienkamp deelgeneem het.
Spesiale dank gaan aan:
- Anton Scheepers, haar afrigter, mentor en oefenmaat in verskeie items.
- Louis Nienaber van die Boland Paalspring Akademie.
- Martin Marais, vir spiesgooi-afrigting.
- Wes-Kaap-atletiek, vir hul oop arms teenoor atlete van ander distrikte.
Sy is geen onbekende op die atletiekveld nie. Lizaan het al medaljes verwerf in paalspring by die SA jeug- en SA skolekampioen-skappe. Maar nou neem sy 'n kort blaaskans van atletiek om haar fokus te verskuif na meisierugby.
"Ek wil hê meisies moet hul waarde ken," sê sy. "Selfs as die wêreld vir jou sê jy's nie genoeg nie - gaan wys hulle hulle's verkeerd. Jy kan enigiets doen."
Met haar vasberadenheid, nederigheid en durf, het Lizaan Brand nie net geskiedenis gemaak nie - sy breek grense en bou brûe vir 'n nuwe generasie vroulike atlete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’