GEORGE ROLBALNUUS - Die gewilde blonde kunstenaar, Cordelia, is tydens haar heel eerste optrede in George deur beurtkrag gepootjie, maar haar aanhangers was heel tevrede met wat hulle gehoor het.
'n Rekordgetal spelers en aanhangers het opgedaag om die eindstryde in die rolbal-besigheidsliga by te woon en die sangeres in lewende lywe te sien optree.
Die klub moes 'n rekordgetal van 308 biefstukke braai om al die hongerpyne te besweer, maar dit was nie al nie. Die klublede moes ook heelaand bontstaan om al die bestellings worsies en skyfies voor te berei.
Herman Odendaal se Onbekend het vir die ysbreker gesorg met opgewekte liedjies totdat Cordelia agter die mikrofoon ingeskuif het.
Sy het die aanhangers op haar gewildste liedjies vergas en die atmosfeer het net lekker warm begin word toe beurtkrag 'n stokkie voor die optrede gesteek het. Daar was wel 'n opwekker vir die ligte en CD-speler wat moes oorneem, maar dit was nie toegerus om die meer gesofistikeerde klankapparaat te trek nie. Dit het die einde van Cordelia se optrede beteken.
Sy het agterna gesê dat sy dit baie geniet het om voor 'n baie waarderende gehoor op te tree en was jammer dat haar sessie skielik tot 'n einde gekom het. Sy sien egter daarna uit om gou weer in George op te tree.
Sy het ook Greg Young en sy gesin bedank vir die rol wat hulle gespeel het om haar gratis by die rolbalklub te laat optree.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'