GEORGE ROLBALNUUS- Hoewel die wedstryde deurgaans redelik gelykop verloop het, was dit weer die jongspan wat met die louere weggestap het in die jaarlikse Oud en Jonk-toernooi van die Outeniqua-rolbalklub.
Die uitsonderlike warm weer het die spelers nie afgeskrik nie en baie het van groot hoede gebruik gemaak om die uitwerking van die hitte te minimaliseer.
Die gewilde toernooi is vanjaar vir die tiende keer aangebied met Sampie Bezuidenhout, van Sampies Electrical, wat van meet af aan as hoofborg opgetree het. Elke deelnemer het 'n spesiale bottel wyn of vrugtesap ontvang met die wenners van die ander kompetisies wat addisionele pryse ontvang het. Die deelnemers is ook op 'n kerrie-hoenderpot getrakteer wat deur Das Barnard gekook is.
Die klub se tesourier, Phillip Hattingh, het die kompetisie tien jaar gelede begin en die meeste deelnemers dra rooi en wit om by Valentynsdag in te pas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'