GEORGE NUUS - Die jong ovaalbaanrenjaer Malan Walters (17) het die resieswêreld aan die praat met sy prestasies by die onlangse Klein-Karoo-kampioenskappe. Hier het hy vir Hansie Moore vir ses rondtes in sy truspieëltjie gehou terwyl hy geveg het om sy 2de plek agter Burger van der Westhuizen te hou.
"Ek het nie geweet dit is oom Hansie nie, maar ek kon voel dit is iemand met ervaring wat agter my ry aan die manier hoe hy my toets om verby te kom," vertel Malan.
Met vier rondtes oor het sy regterwiel egter die los sand getref, sy renmotor het getol en hy eindig die wedren in die agterste bondel. Maar nietemin het die jongman op gelyke vlak in die ope klas teen die seniors kompeteer.
Malan se ervaring met ovaalbaanresies het in 2017 op die ouderdom van nege begin toe hy vir sy pa, Charl, gesê het hy wil ook graag jaag.
"Ek het altyd langs die baan gestaan en vir my pa gekyk en dit is waar ek 'n liefde vir die sport ontwikkel het. Toe ek sê ek stel belang koop hy vir my 'n knortjor (go-kart)," sê Malan.
Toe word Malan die derde generasie Walters wat betrokke is by ovaalbaan-wedrenne. "Ek was baie bly toe my seun sê hy wil resies jaag en al wat ek dink is: 'Hier begin dit nou," sê Charl met 'n glimlag.
Sy pa Giepie was lank betrokke by Cape Helldrivers.
Op 17 is Malan oud genoeg om aan die ope klas deel te neem. Sy eerste kompetisie in die ope klas was by Victory Raceway op 1 Junie. Daar het hy heel laaste weggespring en 2de geëindig. "Ons het hom laaste laat wegtrek aangesien beide hy en die kar nuut was," sê Charl.
Malan se tweede kompetisie was by die Klein-Karoo-kampioenskappe op 29 Junie wat nie voltooi is nie na Hansie Moore se ongeluk. Die eerste wedren het Malan 2de weggetrek, maar nie voltooi nie weens 'n pap wiel.
Die tweede wedren het hy tweede laaste weggespring, maar steeds in die toptien geëindig.
In die derde wedren het hy tweede weg-getrek en kon kortliks die eerste plek hou voor Burger van der Westhuizen hom verbygevat het.
Maar vir die volgende ses rondtes kon hy tweede bly met Hansie Moore reg agter hom, in sy truspieëltjie. In die vierde wedren het die ongeluk plaasgevind en die wedren is gestop.
"Vir 'n nuweling om so in die ope klas te ry is fantasties. Ervaring tel soms teen jou, maar dit is nou eers die begin vir Malan," sê Charl.
Malan Walters (17) is 'n jong ovaalbaanrenjaer wat die senior manne in die ope klas goed gas gee.
Vir die res van 2024 is die fokus om die klubkampioenskappe van die George-motorklub te voltooi sodat Malan in 2025 vir die nasionale kampioenskappe kan kwalifiseer.
"Ons hoop is natuurlik dat hy genooi sal word vir die 2024 nasionale kampioenskappe," sê Charl.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’