SPORTNUUS - Hoërskool Outeniqua se swemmer, Isabeau Coetsee (gr. 8), het fenomenaal presteer tydens die Senior Afrika-swemkampioenskappe in Algerië.
Die jong swemmer het twee goue medaljes in die 100 m- en 200 m-rugslag verower, asook silwer in die 50 m-rugslag.
Sy het boonop drie Eden-rekords in die 50 m-, 100 m- en 200 m-rugslag verbeter, asook drie Wes-Kaap-rekords in dieselfde items opgestel.
Haar indrukwekkende vertonings het ook gelei tot twee nuwe Suid-Afrikaanse rekords in die 50 m- en 100 m-rugslag.
In die aflositems het Isabeau verder tot die span se sukses bygedra met goud in die 4x100 m-wisselslagaflos, silwer in die 4x200 m-vryslagaflos en bronsmedaljes in beide die 4x100 m-vryslagaflos en 4x100 m gemengde vryslagaflos.
Haar internasionale sukses volg kort op haar uitsonderlike prestasie by die 2026 SA Skoleswemkampioenskappe wat van 23 tot 27 April in Kaapstad plaasgevind het.
Daar het sy ses goue medaljes gewen en drie nuwe SA skolerekords opgestel in die 50 m-, 100 m- en 200 m-rugslag.
Sy het ook goud gewen in die 100 m-vlinderslag, 100 m-vryslag en 200 m individuele wisselslag.
In die aflositems tydens die SA Skolekampioenskappe het sy goud gewen in die 4x100 m-wisselslagaflos, silwer in die 4x100 m-vryslagaflos en brons in die 4x50 m gemengde vryslagaflos. Sy is ook aangewys as senior victrix ludorum - 'n gepaste bekroning vir haar merkwaardige prestasies.
- Saamgestel deur Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’