GEORGE NUUS - Herstelwerk by Outeniquapark van R1-miljoen het onlangs by die gewilde stadion afgeskop.
Volgens Granville Campher, sportontwikkelingsbestuur by George-munisipaliteit, het hulle aan die begin van die finansiële jaar 'n strukturele ingenieur aangestel om 'n assessering oor die strukture te doen, met die doel om 'n nuwe strukturele integriteitsertifikaat vir die fasiliteit soos per wetgewing te laat uitreik.
Herstelwerk by Outeniquapark het reeds op 20 Maart begin. Die werk behels herstelwerk aan beton, messelwerk en staalwerk by die stadion, die grootste in die streek, wat sowat 10 000 mense kan huisves.
Intussen is dinge in rugbygeledere van Pacaltsdorp effe kriewelrig, siende dat hulle steeds wag vir dinge om by die Pacaltsdorp-stadion te gebeur. Daar word nou gevra waarom herstelwerk by dié stadion nog nie begin het nie. Dit wil voorkom of sulke planne sloer, word daar gesê.
George Herald het in Mei berig dat tenders in Februarie ontvang is vir die vervanging van die dakstruktuur en tenders geëvalueer word. Die munisipaliteit was in die proses om die tenders te evalueer en aan te stel. Dit sou hopelik binne die volgende maand geskied.
Sportliefhebber van Pacaltsdorp (skuilnaam) skryf in 'n brief aan George Herald daar word gespog oor die verbeterings wat aangebring word by Outeniqua-stadion. "Dis goeie nuus want daar vind groot wedstryde plaas."
Wat Sportliefhebber egter pla is hoekom is daar nog niks gedoen is aan die pawiljoen by Pacaltsdorp-sportterrein nie.
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het Dinsdag gesê die situasie is nog dieselfde. Daar is bewerings dat 'n kontrakteur aangestel is, maar hulle as klub het nog niks konkreet gehoor nie.
Charly Daman, voorsitter van Le Grand Roses-rugbyklub van Rosedale, Pacaltsdorp het gesê die toestand van die stadion in Pacaltsdorp is 'n bron van kommer vir die gemeenskap.
Die klub maak net soos Evergreens ook gebruik van die stadion. Die stadion is onveilig verklaar. Soms moet van die toeskouers in die reën staan.
"Ek het gehoor die munisipaliteit is besig om aandag aan die situasie te gee, maar niks het nog gebeur nie. Intussen gaan die stadion agteruit. Ons soek definitief antwoorde."
Brendon Adams, burgemeesters-komiteelid vir sport, het gesê daar is bepaalde prosesse wat gevolg moet word.
Die appèlproses vir die tender is aan die gang en daar behoort Maandag duidelikheid te wees oor wie die tender gekry het.
Volgens hom kry ander velde en stadions ook aandag soos byvoorbeeld Touwsranten, Uniondale en Rosemoor.
Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het gesê die herstelwerk by Outeniquapark behoort nie wedstryde te raak nie. Daar is goeie verhoudinge met die plaaslike munisipaliteit en ander munisipaliteite in die streek. As dit nodig sou word kan wedstryde na ander plekke geskuif word.
Herstelwerk het reeds by die stadion begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’