GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se atletiekspan het Saterdag hul seisoen op 'n hoogtepunt afgesluit deur koning te kraai by die Mooreesburg Top10-byeenkoms.
Kwaggas het 14 455 punte op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se puntetabel verdien, gevolg deur Hoër Meisieskool Bloemhof (13 834 punte), Hoërskool Brackenfell (13628 punte), HTS Drostdy (12879 punte) en Rhenish Girls High (12666 punte).
Daar het 32 skole aan die byeenkoms deelgeneem.
Outeniqua, wat verlede week die vierde jaar agtereenvolgens die Bredasdorp Top10 gewen het, kan spog dat hulle 17 eerste, 16 tweede en 10 derde plekke ingepalm het.
Kwaggas se atlete het ook vyf nuwe byeenkomsrekords opgestel.
Die 17-jarige Hanno du Plessis, 'n gr. 11-leerder by Hoërskool Outeniqua, was die beste atleet van die dag. Hanno het die hamergooi vir seuns o.17 met 'n puik nuwe byeenkomsrekord van 65,33 m gewen.
Hierdie uitsonderlike prestasie sou vir hom 1 017 punte besorg het op ASA se puntetabel. Hy is ook aangewys as die beste o.17-seunsatleet van die byeenkoms.
Meike Strydom is aangewys as die beste o.17-dogtersatleet. Die SA rekordhouer in gewigstoot het byeenkomsrekords opgestel in gewigstoot (16,93 m) vir 965 punte en diskus (40,63 m) vir 928 punte.
Die 16-jarige Nolene van Rensburg, wat verlede week 'n silwermedalje by die SA padstapkampioenskappe in Pacaltsdorp verower het, het weereens uitgeblink. Sy het die 400 m (1:02.29) vir 795 punte, 800 m (2:30.64) vir 718 punte en driesprong (10,50 m) vir 696 punte vir dogters o.16 gewen.
Die belowende o.17-atleet Stefan van Wyk het ook uitsonderlike prestasies behaal deur die 100 m (10:90) vir 909 punte, 200 m (21:69) vir 903 punte en 400 m (49:84) vir 880 punte te wen. Hy het ook in die 200 m en 400 m nuwe byeenkomsrekords opgestel.
JD Heyns het ook die Kwaggas se vlag hoog laat wapper toe hy eerste plekke behaal het in diskus (46,55 m) vir 820 punte en gewigstoot (15,72 m) vir 818 punte (seuns o.14).
Ander Kwagga-atlete wat eerste plekke behaal het:
- Dogters o.14: Lané Coertze - spiesgooi (34:30 m) vir853 punte.
- Seuns o.14: Ruben Lombard - spiesgooi (51,80 m) vir 793 punte.
- Dogters o.15: Mire Reinstorf - 90 m-hekkies (13:50) vir 930 punte; Stephany Petro - 1500 m (5:04.24) vir 797 punte.
- Seuns o.15: Joshwyn Botha - 100 m-hekkies (14:15) vir 785 punte.
- Dogters o.16: Shane Kruger - 1500 m (5:50.52) vir 595 punte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'