GEORGE NUUS - George Vryburgers, wat eersdaags hul jaarlikse Jakkalberry-fietswedren in die Tuinroete aanbied het 'n welkome R5 000 donasie aan die Hillbillies-klub gemaak.
Die Hillbillies-klub van George het tot stand gekom in 1996 en het oorwegend as ‘n MTB-klub bekendgestaan.
Tans bestaan hulle uit ongeveer 400 lede. Meeste van die roetes wat vandag in die woud en teen die voet van die berg deur die fietsrygemeenskap gebruik word is deur die Hillbillies ontwikkel en word ook deur hul in stand gehou.
Braam Pretorius, voorsitter van die Hillbillies, het sy opregte dank uitgespreek vir die donasie wat hul ontvang het. "Die fondse sal direk aangewend word vir instandhouding van bergroetes, herstelwerk na waterskade asook die heropening van roetes na stormwindskade.”
Die Hillbillies se toekomsdoelwit is om roetes in die woud en berge rondom George tot voordeel van alle gebruikers te ontwikkel en sodoende toerisme te bevorder wat nie net die fietsrygemeenskap bevoordeel nie, maar spesifiek ook stappers, veldhardlopers en die buitelewe entoesiaste.
Hoewel die Hillbillie-roetes nie tydens die Jakkalberry gebruik word nie, is dit vir die George Vryburgers 'n groot voorreg om betrokke te kan wees by die Hillbillies en hul te kan ondersteun.
Vroeër vanjaar het die Vryburgers geskenksakkies tydens die “sixty minutes of myhem” aan lede van die Hillbillies oorhandig. Dit spesifiek ook om die verhouding tussen die George Vryburgers en die groter fietsrygemeenskap te koester. "Baie van ons fietsryers wat ons graag by ons plaaslike wedrenne soos die Jakkalberry wil sien is hier in ons nabye gemeenskap," het Hildred Basset, woordvoerder van die Vryburgers gesê.
Die buitelewe entoesiaste kan eersdaags nuwe borde verwag wat roetes aanwys met 'n skandeerkode waar donasies gemaak kan word. Die skuif van Hillbillies MTB na Hillbillies Trials word volgende Vrydag 15 Desember offisieel aangekondig en die publiek word uitgenooi na die gesellige geleentheid. Meer besonderhede by www.hillbillies.co.za
Jakkalberry MTB/Gravel
16 Desember is dit Jakkalberry MTB/Gravel tyd. Die George Vryburgers wil graag die plaaslike fietsrygemeenskap, spesifiek alle Hillbillie-fietsryers nooi en uitdaag om hul vriende en familie na die wedren te bring - alles ten bate van Kos vir Kinders. www.jakkalberry.com
Daar is twee verskillende afstande waarna ryers kan uitsien, 108 km Jakkalberry Extreme wat vanaf Redberry Farm net buite George strek tot by Jakkalsvlei-wynkelders asook ‘n 47 km Halfjakk wat by Ruiterbosch Lodge begin en ook eindig by Jakkalsvlei-wynkelders.
Ryers kan uitsien na fantastiese geskenksakkies, baie goed gedienste waterpunte en heerlike pizzas en bier by die eindpunt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’