Die bekende dr. Brendan Venter, Springbok-senter by die 1995 en 1999 Wêreldbekertoernooie en internasionale afrigter, het 'n uitstaande praatjie oor die bydrae van sport tot die ontwikkeling van die indiwidu gelewer en talle vrae van die gehoor ná sy toespraak beantwoord.
Hy het baie klem geplaas op die gedagte dat die sportbeoefenaar sy deelname moet gebruik om hom of haar te help om verder te studeer ten einde 'n goeie werk te verseker. Volgens hom is slegs een persent van sportlui in die posisie om daaruit op professionele vlak te kan lewe. Die res moet sport gebruik om daaruit voortspruitend beter lewenskwaliteite te verseker.
Die twee uitstekende rugbyspelers van Hoërskool Outeniqua, die senter Warrick Gelant en die vleuel Duhan van der Merwe wat beide in die SA Skolespan gespeel het, is gesamentlik aangewys as die George Junior Sportman van die Jaar. Beide het geskitter op provinsiale en nasionale vlak asook op internasionale vlak.
In die junior vroue afdeling is George se Junior Sportvrou van 2012 die uitstekende karateka van Outeniqua, Anuschka Zaayman, wat Suid-Afrika met groot eer op die Statebondkampioenskappe verteenwoordig het en reeds 'n swartgordel in karate het. Sy is ook lid van die SA Nasionale span na die 2013 Wêreldkampioenskappe in die gevegskunste in die VSA en het in netbal SWD- en Wes-Kaapkleure verwerf. Sy het spog ook met SWD-kleure in atletiek.
Christo Lamprecht, briljante jong gholfspeler, en veelsydige sportman van die Laerskool Outeniqua, is as George se Laerskole Sportman van 2012 aangewys. Christo, wat derde by 'n internasionale gholftoernooi vir 11-jariges in Skotland was, is ook SWD se no 1 o.21-tennisspeler en blink in krieket en rugby uit. Dit is sy tweede jaar as George se Sub-junior Sportman.
George-Suid se Luné van der Westhuizen, goue medalje wenner in Biathlo op die SA Kampioenskappe en een van die land se voorste tweekampatlete, is as George se Laerskole Sportvrou van 2012 aangewys. Sy het ook die SWD op die atletiekbaan en in die swembad verteenwoordig en is ook vir die tweede agtereenvolgende jaar George se Sub-junior Sportvrou.
Van Kervel se atleet Venessa Wolmarans en Die Bult se Godwin Maree wat vir die LSEN SA skolerugbyspan uitgedraf het en ook provinsiale kleure in atletiek verwerf het, is onderskeidelik as George se Spesiale Skole-sport-vrou en -sportman gekroon.
Annatjie Botes, langasem van die Nedbank-atletiekklub, is as George se Meester-sportpersoon van die Jaar aangewys. Botes het verskeie nasionale medaljes verower en gereeld by groot atletiek en padwedloopbyeenkomste gedurende die jaar uitgeblink.
Flippie Grobbelaar, afrigter van die SWD o.13 Cravenweekspan en van Laerskool Outeniqua se onoorwonne o.11-rugbyspan, is as George se Laerskole-afrigter vir 2012 aangewys. Die George Hoërskole-afrigter van die Jaar is Outeniqua se Jacques Wolfaardt terwyl Nantes Grobbelaar, van Scorpians Martial Arts Academy, George se Senior Afrigter vir 2012 is.
Susan Botha van die Van Kervel is 2012 se George Spesiale Skole-afrigter.
Anne van der Merwe, wat op skopboksvlak op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak uitstekende werk verrig, is George se Sport-administrateur van die Jaar.
In die spansport-mededinging het drie rugbyspanne met die titels weggestap.
George-Suid se onoorwonne o.13 A-rugbyspan is die Laerskole-span van 2012 en Hoërskool Outeniqua se o.18 A-span het met vele van Suid-Afrika se top rugbyskole in 2012 afgereken en is George se Junior Sportspan van die Jaar.
Nog 'n uitstekende span wat nie gekroon is nie, maar 'n briljante jaar op die veld gehad het, was Laerskool Outeniqua se o.13 A-krieketspan wat ook onoorwonne in die SWD-laerskoleliga was en vyf spelers in die SWD o.13 A-span gehad het.
Evergreens se eerste rugbyspan het die SWD Premierliga verower en is as George se Senior Sportspan vir 2012 gekroon.

Christo Lamprecht wat vir die tweede agtereenvolgende jaar die Laerskole Sportman van die Jaar is.Nantes Grobbelaar was as George se Senior Afrigter vir 2012 gekroon is.Sors Grobbelaar, George se Sportman van die Jaar.