GEORGE NUUS - Van amper nie die Olimpiese spele bywoon nie, tot Suid-Afrika se beste tyd ooit. Elroy Gelant het Pacaltsdorpers en Suid-Afrikaners se harte met trots laat klop toe hy 11de in die marathon tydens die Olimpiese spele geëindig het.
VIDEO ONDERHOUD: Elroy Gelant gesels oor sy Olimpiese ervaring en prestasie
"Ek is opreg dankbaar vir almal se onder-steuning, vriendelike wense en gelukwense tydens my Olimpiese reis.
Dit het vir my die wêreld beteken om sulke oorweldigende ondersteuning van my land en veral van my tuisdorp, Pacaltsdorp, te ontvang,' sê Gelant op sy Facebook-blad.
Hy was sowat drie minute agter die wenner Tamarit Tola, wie se tyd van 2:06:25 'n nuwe Olimpiese rekord is. Gelant het 'n tyd van 2:09:07 gehardloop en mede-Suid-Afrikaner, Stephen Mokoka, het 27ste met 'n tyd van 2:10:59 geëindig.
Gelant het aansienlik verbeter sedert sy deelname aan die 2020 Tokyo-spele waar hy 33ste met 'n tyd van 2:16:43 geëindig het. Sy tyd is ook die beste nog van enige Suid-Afrikaanse man sedert Josiah Thugwane in 1996 by die Atlanta-spele goud gewen het met 'n tyd van 2:12:36.
Dit was wel amper of Gelant het nie aan die Olimpiese spele deelgeneem nie.
Sy kwalifi-seringstyd was net-net te stadig vir outomatiese kwalifikasie en die Wêreldatletiekorganisasie (WAO) het toe universaliteitsdeelnemers gekies in plaas van om spelers vanaf die wêreldranglys te kies.
'n Brief vanaf Atletiek Suid-Afrika aan die WAO het daartoe gelei dat die aantal deelnemers vermeerder word van 75 na 85 en Gelant kry die groen lig in Junie om deel te neem.
"Dit is ongelooflik om ons reis van 'n eenvoudige droom na 'n Olimpiese werklikheid te aanskou. My hoop is dat ons inspirasie in die volgende generasie kan aanvuur vir 'n beter toekoms. Bly geseënd en mag seëninge aanhou instroom," sê Gelant op Facebook.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’