GEORGE-NUUS - Flippie du Toit het behoorlik stof in die ander duiweboere se oë geskop deur as die klubkampioen van die Eden Posduifklub gekroon te word.
Du Toit het nie net uitstekend by die klub gevaar nie, maar ook die George-kompetisie baie oortuigend gewen.
Sy span vliegduiwe het die hele seisoen fantasties presteer en dit was net by uitsondering dat hy ‘n swak naweek beleef het. Hy kon die seisoen 8 wedvlugte wen en dit behalwe die magdom tweede en derde plekke wat hy losgevlieg het.
Die Eden Posduifklub is geaffilieer by die Tuinroete Federasie en ding mee saam met
13 ander klubs van die Suid-Kaap. Hierdie kompetisie is baie sterk en mededingend omdat die Federasie deelneem aan massaloslatings saam met die Boland van oor die 15 000 duiwe per wedvug. In hierdie hoogs kompeterende geselskap het Du Toit 5e geëindig. Dit is ‘n uitstekende prestasie om te behaal tussen 170 ander lede wat vanoor die hele Suid-Kaap deelneem.
Nou lê die 2010-seisoen voor en soos dit maar met die duiwesport gaan, is daar altyd ‘n nuwe seisoen met nuwe uitdagings en nuwe duiwe wat geteel is om ‘n groot kampioen te word.