GEORGE NUUS - Downsindroom-swemmer Minke Janse van Rensburg het 'n besonderse tyd in die swembad by Bangkok, Thailand, met die 2025 Virtus Swemkampioenskappe vir mense met intellektuele gestremdhede ervaar.
Op haar derde dag van deelname, Maandag 25 Augustus, het sy reeds vier wêreldrekords losgeswem, drie goue medaljes, een silwer- en twee bronsmedaljes.
Van die deelnemers met Downsindroom vaar Minke by verre die beste, en sy het die tweede meeste individuele punte.
Die vrou wat daar met enkele punte beter vaar neem deel in 'n ander klas.
Minke swem nog verskeie items, onder andere die 800 m-vryslag, 100 m-vlinderslag, 400 m individuele wisselslag, 100 m-vryslag, 50 m-vryslag en verskeie aflosse.
"Hierdie is Minke se beste swem tot dusver," sê Franna Vorster, eienaar van Garden Route Swim School waar Minke afrigting ontvang.
Sowat 40 lande word verteenwoordig met ongeveer 300 swemmers, en strek van 20 tot 30 Augustus.
Minke klim Saterdag 30 Augustus terug op die vliegtuig en land Sondagmiddag in George.
Volgens Hennie Janse van Rensburg, Minke se pa, is die kos baie vreemd en vol speserye, en die mense is vreeslik gasvry. "Dit is ook die beste fasiliteit wat jy jou kan voorstel!" sê hy.
Jennifer Higgins (KwaZulu-Natal), Savanna Haselau (KwaZulu-Natal), Minke Janse van Rensburg (George) en Zora Wegerif (Gauteng).
Bo en behalwe haar eie wêreldrekords, het Minke die kans gehad om 'n wêreldrekord saam met haar vriendin Savanna Haselau op te stel.
Savanna is ook 'n Downsindroom-swemmer en woon tans in KwaZulu-Natal. Sy het voorheen saam met Minke in George by Garden Route Swim School afrigting ontvang.
Hulle is vergesel deur twee ander swemmers, Zora Wegerif (Gauteng) en Jennifer Higgins (KwaZulu-Natal), in hul deelname aan die 4 x 100 m-vryslagaflos.
"Die geweldige hitte in Bangkok verg dat Minke gedurig haar elektrolietvlakke moet aanvul en seker maak sy dehidreer nie," sê Janse van Rensburg.
Sy eet ook twee hamburgers in die middag, met ekstra mayonnaise, om seker te maak sy het genoeg olies om te verbrand.
Tot dusver lyk Minke se resultate soos volg:
- Goud: 200 m-vryslag en 'n wêreldrekord,
- 50 m-vlinderslag, 200 m individuele wisselslag.
- Silwer: 400 m-vryslag.
- Brons: 50 m-borsslag, 1 500 m-vryslag.
- Die ander twee wêreldrekords is tydens die uitdunne op dag 2 behaal vir 200 m-vryslag en 50 m-borsslag.
Hoe lekker pryk ons vlag in Bangkok!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’