GEORGE ROLBALNUUS - Die balle het onlangs vlytig by die Outeniqua-rolbalklub gerol om fondse in te samel vir boere en werkers in droogtegeteisterde gebiede.
Die klub het gevoel hulle is baie bevoorreg om elke dag die grasperke te kan natspuit, terwyl van die boere jare laas reënwater gesien het.
Na 'n heerlike aand van sosiale rolbal, 'n smullekker ete en ander aanbiedings waarmee fondse ingesamel is, kon die klubpresident, Greg Young aan die einde van die aand meer as R33 300 aan die droogtehulpfonds oorhandig.
Verteenwoordigers van die fonds, Ettiene Marais en Doccie Shields, het benadruk dat alle donasies onder hulpbehoewende boere en werkers uitgedeel word.
Marais het die rolbalklub en mense van George hartlik bedank vir die inisiatief.
"Geen donasie is te gering nie en elke bietjie help om die mense wat gebuk gaan onder droogte se pyn te verlig," het hy gesê.
Young was namens die klub ook in sy noppies met die steun en oop hande van lede en ondersteuners.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'