GEORGE NUUS - Wanneer Andru van Zyl tussen 13 en 17 Januarie deur die Tuinroete en Hessequa trap, is dit nie net 'n fietsryer wat verbykom nie, maar 'n lewende verhaal van hoop en inspirasie.
Sy epiese tog van 22 dae van Polokwane tot Seepunt het oorspronklik ontstaan vir Badprop, Mandré de Jager, die leerling wat in 2025 by Afrikaans Hoër Seunskool met kanker gediagnoseer is. Andru was hoofseun by die skool.
Wat begin het as 'n "mal idee" het vinnig gegroei. Vandag trap Andru nie net vir een kind nie, maar in die kleure van CHOC (Childhood Cancer Foundation) - vir kinders wat daagliks teen kanker veg.
Ná 'n paar honderd kilometer het die reis op die pad nie net oor siekte gegaan nie; dit het 'n tog van hoop, omgee en menslikheid geword - 'n herinnering dat selfs in donker tye daar altyd lig en ondersteuning is.
Die inwoners van Plettenbergbaai (14 Januarie), Sedgefield (14 en 15 Januarie), Mosselbaai (15 en 16 Januarie), Stilbaai (16 en 17 Januarie) en Riversdal (17 en 18 Januarie) kry nou ook 'n geleentheid om vir Andru en sy span te ondersteun.
Só het 'n groep boere van Brood-snyersplaas Boerevereniging Andru met R28 000, worsbroodjies en yskoue koeldrank ingewag, terwyl 'n negejarige meisie in Standerton, wat self as baba met kanker gediagnoseer is, hom met 'n teddiebeertjie verwelkom het.
Die tog het begin by Andru se ouerhuis in Polokwane, waar Steyn du Plessis van Oil Solutions SA gesorg het vir diesel, 'n karavaan, 'n drywer en 'n voertuig om saam te ry.
Skoolmaats, insluitend Lamond Baadjies, die Affie-heelagter van 2025, het tot in Middelburg saamgetrap, en op verskeie plekke het ander fietsryers by die groep aangesluit.
Dorpe soos Knysna, Sedgefield, Mosselbaai, Stilbaai en Riversdal wag om deel te wees van hierdie lopende verhaal van lig, en inwoners word uitgenooi om hierdie tog van hoop te ondersteun en te beleef.
Andru se reis herinner ons dat 'n enkele daad van omgee nie net lewens kan raak nie, maar gemeenskappe kan saamsnoer. Dit is 'n rit waardig om saam te trap.
Voor die wegspring op Middelburg is Cobus Fourie, Mandré de Jager, Gerhard en Lana Smith, Andru van Zyl en Steyn du Plessis. Foto: Tobie van den Bergh
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’