GEORGE NUUS - Verskeie plaaslike atlete het verlede naweek by SASA se nasionale hoërskole se baan-en-veldatletiekkampioenskappe in Potchefstroom uitsonderlike gepresteer.
Meike Strydom van Hoërskool Outeniqua, was die groot uitblinker.
Sy het vir die vyfde jaar agtereenvolgens die SA skoletitel gebuit. Sy het die gewigstoot vir dogters o.19 in 'n nuwe SA skolerekord van 16,32 m gewen. Strydom het verbeter op die rekord van Simone du Toit (16,17 m) van Gauteng wat op 1 April 2006 in Sasolburg opgestel is.
Meike het ook die diskustitel gebuit met 'n puik afstand van 44,24 m. Sy is aangewys as die beste dogtersveldatleet van die byeenkoms.
Die talentvolle Phillip Kleynhans van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het ook roem na die Suid-Kaap gebring.
Kleynhans het in die seuns o.15-ouderdomsgroep uitsonderlike prestasies behaal deur goud te wen in die diskus (62,90 m) en gewigstoot (19,25 m). Hy is ook aangewys as die seunsveldatleet van die byeenkoms.
Simeon Oosthuizen, ook van Oakdale, het die 300 m-hekkies vir seuns o.15 in 'n skitterende tyd van 38:71 gewen.
Die Kwagga Hanno du Plessis, het die hamergooititel vir seuns o.19 gebuit met 'n persoonlike beste afstand van 62,57 m.
Die Kwaggas het ook puik gevaar in die paalspring. Simeon Swanevelder (3,40 m) en Mire Renstorf (3,20 m) het onderskeidelik 'n silwer- en bronsmedalje gewen in die dogters o.19-ouderdomsgroep.
Lize-Ann Minnie het met haar hoogte van 2,40 m 'n silwermedalje ingeoes vir dogters o.17.
Nog 'n Kwagga, Ellen Kleinsmidt, was in die Wes-Kaapse 4x100 m-aflosspan (dogters o.17 wat 'n silwermedalje gewen het.
Die talentvolle Phillip Kleynhans van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het in die diskus en gewigstoot vir seuns o.15 goud gewen. Hy is ook aangewys as die seunsveldatleet van die byeenkoms. Foto's: Hugo Redelinghuys
ARTIKEL: ANDRé STANDER
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'