GEORGE - Na 49 jaar se betrokkenheid by netbal het Hester Las (64) van Pacaltsdorp, beter bekend as Aunt Hettie Las, besluit om halt te roep. Haar naam het oor die jare al sinoniem geword met netbal, nie net op plaaslike vlak nie, maar ook op nasionale vlak.
Dis 'n lang pad wat sy met haar geliefde sport geloop het. Sy is gebore en getoë in Pacaltsdorp en het reeds op 'n jong ouderdom by netbal betrokke geraak. "Ek was van jongs af 'n sportmens en het onder meer deelgeneem aan atletiek en netbal."
Haar eerste netbalwedstryd was vir die destydse Pacaltsdorp Primêr se o. 10-span. Vandaar het dit net beter gegaan en sy het meer betrokke geraak.
Volgens haar het sy van die begin af van netbal gehou. Oor die jare het sy vir verskeie spanne gespeel in posisies soos doel en verdediger.
In 1978 is sy op 18-jarige ouderdom vir SWD se o. 19-span gekies. Daarna het sy verskeie kere die SWD-span gehaal.
Sy het gespeel en later ook saam met die speel begin afrig. In 'n stadium was sy ook 'n SA skeidsregter en in 1999 is sy gekies as 'n SA keurder wat verantwoordelik was vir die aanwys van die nasionale netbalspan.
Sy het ook gekwalifiseer as 'n sportfasiliteerder en was ook betrokke by die NMU Saasveld-kampus as 'n aanbieder. In dié hoedanigheid het sy eerstejaars touwys gemaak in netbalafrigting.
Haar aanvoeling en talente vir sport het nie net as speler gedy nie. Sy was ook visevoorsitter van die Pacaltsdorp-sportraad en voorsitter van Eden-netbal.
Haar talente was ook tot die beskikking van skoolspanne en sy het gehelp met afrigting by skole.
Aan die einde van verlede jaar het sy besluit om as gevolg van persoonlike redes uit te tree. Oor die jare het netbal baie van haar persoonlike tyd opgeneem.
Sy mis nie netbal nie. "Ek het my kant oor die jare gebring."
Sy het steeds 'n verbintenis met netbal. Haar een kleinkind, Kimicha Las (12) speel netbal. Dié kleinkind kon sommer direk by haar ouma van netbal leer.
Hester se dogter, Bruneigh Las het ook goed presteer in netbal en is twee keer opgeneem in die SA o. 19-oefengroep.
Las is hoopvol oor die toekoms van netbal in Suid-Afrika. "Die standaard van netbal in SA is goed. Die Proteaspan is suksesvol."
Sy beskou sport as belangrik vir jeugontwikkeling en sal wil sien dat meer gedoen word vir sport in jeugontwikkeling.
"'n Sport soos netbal kan baie vir die jeug beteken."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’