TUINROETE NUUS - Daar is woelinge in SWD-krieket. Een van die bekendste klubs van die unie, Pacaltsdorp United betwis die regsgeldigheid van 'n ondersoek wat deur die unie gedoen is. Dit is by navraag deur Leroy Hector, president van die klub, bevestig.
Twee beweerde voorvalle het die spel in die streek laat verlede jaar geruk.
Die unie het kort na die voorvalle in 'n verklaring verwys na die voorvalle. Albertus Kennedy, hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket, het toe gesê daar was 'n "ongelukkige" en "ongevraagde" voorval in 'n wedstryd in die Premierliga tussen Mosselbaai en Union Stars. Die wedstryd is by die Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai gespeel.
Daar is ook onderneem dat 'n ondersoek gedoen sal word na 'n voorval wat reeds op 24 November in Pacaltsdorp plaasgevind het.
Daar word verneem dat 'n speler van Pacaltsdorp na bewering na afloop van die wedstryd naby die kleedkamer deur een van die toeskouers aangerand is. Dit was ook 'n wedstryd in die premierliga en in die wedstryd het Pacaltsdorp United en George kragte gemeet.
Kriminele klagtes is glo by die polisie gelê.
Brief van SWD
Die George Herald het 'n afskrif bekom van 'n brief wat Hector vroeg vanjaar aan SWD-krieket gestuur het. In die brief skryf hy (Hector) onder meer dat 'n skrywe van die unie gedateer 11 Januarie, 'n aanduiding is om die klub skuldig te bevind sonder dat behoorlike prosesse gevolg is.
Die klub se argument is dat die hoof- uitvoerende beampte (Kennedy) wel die reg het om 'n ondersoek te doen.
Albertus Kennedy, hoof-uitvoerende beampte van SWD-krieket.
Dit kan egter net plaasvind in buitengewone omstandighede en as daar bepaalde omstandighede binne die raamwerk van die reëls is.
Hector het aan die George Herald die egtheid van die brief bevestig. Volgens hom is die klub reeds ingelig oor die uitslag van die ondersoek en hulle aanvaar dit nie.
"Die unie het ongelukkig nie die regte prosedures gevolg nie. Dit is teenstrydig met die SWD se eie regulasies. Volgens die uitslag van die ondersoek is dit na die Etiese komitee verwys om uitklaring te bekom. Ons wag nou daarvoor."
Hector het benadruk dit was 'n situasie buite die beheer van die klub en hy kan nie verstaan hoekom die klub daarby ingesleep word nie. Dit was na afloop van 'n wedstryd.
Volgens Hector word die klub nou in 'n negatiewe sin betrek. Dit kan borgskappe raak en hy sal nie huiwer om stappe te neem om die klub se goeie naam te beskerm nie.
Kennedy het by navraag gesê hy kan bevestig dat 'n kriminele klag by die polisie gelê is na aanleiding van die voorval in Pacaltsdorp. Hy het ook bevestig dat die aangeleentheid na die unie se etiese komitee verwys is en bygevoeg dat hy in die stadium nie kommentaar daarop kan lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'