GEORGE NUUS - Onthou gerus die naam Leagan Fortuin en moenie verras wees as sy naam oor 'n paar jaar in die geledere van die Protea-krieketspan opduik nie. Die 11-jarige gr. 6-leerling van Laerskool Blanco het reeds die tonge los oor sy krieketvaardighede.
Om met 'n krieketkolf te presteer, is nie vir hom vreemd nie en verlede Donderdag, 22 Februarie, het hy weer 'n honderdtal behaal.
Hy het 117 lopies aangeteken van net 66 balle en was boonop nie uit nie. Hy het 10 sesse en 14 viere geslaan. Daarom is dit te verstane dat hy 'n bouler se nagmerrie is.
Die prestasie was geen gelukskoot nie want op 3 Februarie het hy ook 'n honderdtal behaal.
In die 2023/24 seisoen het hy agt vyftigtalle en drie honderdtalle geslaan.
Leagan het reeds op tweejarige ouderdom in die spel begin belangstel. Dit was onder aanmoediging van sy pa, Dylan Michaels.
Hy het destyds reeds met 'n klein kolfie begin speel en die spel op televisie dopgehou.
Dylan het Maandag 26 Februarie trots vertel van sy seun se prestasies. "Dit maak my emosioneel as hy so presteer. Ek het nooit self die geleentheid gehad nie.
"Ek het hom van kleins af aangemoedig en vir hom balle begin gooi. Op sesjarige ouderdom het hy begin speel."
Volgens Dylan het Leagan se oupa, Ronald Fortuin, altesaam 185 wedstryde vir SWD gespeel.
Hy het gesê sy sterkpunt is kolf, maar hy kan ook boul.
Leagan het Maandag 'n tydjie by die skool in pouse afgeknyp om met George Herald te praat. Die middag was hy weer by rugby betrokke.
Hy het sommer met die intrapslag gesê hy speel krieket omdat hy eendag in die Proteaspan wil wees.
Dat die droom 'n werklikheid kan word, is nie vergesog nie. Hy het al twee keer vir die SWD se o. 11-span gespeel.
Hy oefen elke dag en wil beslis later 'n beroepspeler word. Hy is baie lief vir kolf. "As ek moet kies tussen kolf en boul, kies ek kolf."
Volgens hom is krieket baie keer moeilik want kolfblaaie is verskillend. Hy is al raakgeboul, maar hy is glad nie bang nie.
Hy het gesê as iemand 'n suksesvolle krieketspeler wil wees moet hy baie konsentrasievermoë en dissipline hê.
"My pa het my geleer: As 'n mens dit kan dink, kan 'n mens dit doen."
Leagan Fortuin in aksie. Foto verskaf
Werner du Plessis, sy afrigter by die skool, het gesê Leagan het beslis talent. "Ek het hom van 9-jarige ouderdom begin afrig. Hy het onmiddellik aanvoeling vir die spel gewys. Hy speel al van gr. 5 vir die eerste span."
By Du Plessis is daar geen twyfel dat hy dit ver sal bring nie. "Hy het die regte persoonlikheid en liefde vir die spel."
Die waarnemende hoof, Esteé Terblanche, het gesê die skool is baie trots op hom.
Kriekettalent loop dik in die familie. Leagan se jonger boetie, Luke (7) doen ook goed op die krieketveld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’