Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Daar is groot afwagting vir twee unieke wedlope wat Saterdagoggend, 23 Oktober, by een van die bekendste toerismebakens in die Suid-Kaap, Kaart van Afrika, (Map of Africa) plaasvind.
Dit staan bekend as die Cairo to Cape and Back-wedlope en dit sal die eerste keer wees dat dit plaasvind. Deelnemers kan kies tussen die 8 km of 21 km-wedloop.
George Herald het verlede Vrydag, 15 Oktober, 'n voorsmakie gehad wat op deelnemers wag. Dit gaan ongetwyfeld wedlope wees wat op een van die mooiste stukke aarde plaasvind en deelnemers kan hulle gereed maak vir taai en soms moeilike terrein.
Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations, een van die organiseerders, het Maandag 18 Oktober gesê reëlings is op koers. Die 21 km-wedloop sal om 08:00 op die oggend van 23 Oktober wegspring en die 8 km, 10 minute later.
As gevolg van die Covid-19-situasie word getalle beperk. Teen Maandag is byna 300 inskrywings al ontvang. Dit blyk baie gewild te wees.
Die geleentheid vind plaas op die plaas waarop die Kaart van Afrika geleë is en waarvan Bruce Jackson een van die eienaars is. Die plaas is een van die oudstes in die gebied en het oorspronklik bekend gestaan as Pampoenkraal. Deesdae is dit bekend as Woodifields. Die ingang is suid van die Nelson Mandela Universiteit, George (voorheen Saasveld).
Die afgelope weke is hard skoon gemaak om die roete reg te kry en die veiligheid van deelnemers te verseker.
Paul Clarcke, 'n musikant van Mosselbaai, sal musiek verskaf en stalletjies al ook beskikbaar wees waar mense verversings kan koop. Na afloop van die wedlope, sal elke deelnemer 'n hamburger-ontbyt en 'n medalje ontvang.
Dippenaar het gesê dit as dit blyk gewild te wees, sal dit verseker weer aanstaande jaar aangebied word.
Kyk 'n video: Saterdag is die groot dag
Die wedloop
Die aanloop tot die wedloop kom 'n lang pad. Dippenaar en Jackson ken mekaar al 10 jaar en het oor die jare goeie vriende geword. Twee jaar gelede is besluit om dele van die grond skoon te maak van indringerplante en paaie oop te maak vir noodvoertuie om toegang te kry wanneer dit nodig sou wees.
Daar is toe besef dat die paaie aangewend kan word vir veldwedlope. Met die wedloop sal lede van die publiek toegang kan kry tot die besondere stuk aarde. Deelnemers aan die 8 km sal tot by die 'ewenaar' en terug hardloop. Dit behoort hulle sowat 'n uur en 15 minute te neem.
Deelnemers aan die 21 km sal van 'Kairo tot by Kaapstad en terug' hardloop en dit behoort hulle sowat drie ure te neem. Op die roete sal bordjies wees wat aandui as deelnemers 'n 'land' inbeweeg soos byvoorbeeld die Kongo.
Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations, een van die organiseerders, wys na van die roetemerkers.
Van die roetemerkers. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'