GEORGE NUUS - Atletiekliefhebbers in die Suid-Kaap het rede om opgewonde te wees, want die gewilde Palm Tyres 10 km- en 5 km-padwedlope vind vanjaar op Saterdag 28 Junie vir die 27ste keer plaas.
Rainbow-atletiekklub, in samewerking met Palm Tyres, bied die byeenkoms aan. Die wedloop is 'n sporthoogtepunt wat al van 1997 deel van George se atletiekkalender is.
Met rekordgetalle inskrywings wat verwag word, beloof dié wedlope om vanjaar groter as ooit te wees. Die 10 km-wedloop skop Saterdagoggend presies om 08:00 af vanaf Palm Tyres in Courtenaystraat, met die 5 km-wedloop wat om 08:10 volg.
Die roete is oorwegend plat, wat ideaal is vir vinnige tye.
Almal se oë sal op George se eie steratleet, Lloyd Bosman, wees, nadat hy twee weke gelede 'n indrukwekkende tyd van 29:27 by die McDonald's 10 km-wedloop aangeteken het.
Hy sal egter sterk teen-stand kry van spanmaats soos Selwyn Matthews, Francois Maquassa en ander talentvolle atlete.
In die vroue-afdeling is Carla Spangenberg die gunsteling om met die oor-winning weg te stap, maar sy sal deeglik dopgehou word deur onder meer Kezia Matthysen, Jeanetta van den Berg, Melissa van Rensburg, Annemarie Donald en verskeie ander mededingers.
Inskrywings en besonderhede
Aanlyn inskrywings het reeds gesluit, maar laat registrasie sal nog tot môre, Vrydag 27 Junie, tussen 17:30 en 19:30 by Palm Tyres gedoen kan word.
Inskrywingsfooie beloop R80 vir die 10 km-wedloop en R30 as jy 'n bietjie luier is.
Die wedloop sal onder die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Atletiek SWD plaasvind.
Atlete word herinner dat hulle slegs met hul 2025-permanente nommers mag deelneem, en geen gebruik van oorfone sal toegelaat word nie.
Daar is ook 'n kontantprys van R1 000 op die spel vir die skool met die meeste inskrywings vir die 5 km-wedloop.
Skenk en wen
Palm Tyres en Rainbow-atletiekklub het ook groot gelukstrekkings wat tydens die prysuitdeling aangekondig sal word.
Deelnemers wat gebruikte hardloop-skoene aan minderbevoorregte atlete wil skenk, word aangemoedig om dit Saterdagoggend by die registrasietafel in te handig.
"Ons sien uit daarna om alle deelnemers en toeskouers op Saterdag te verwelkom.
"Coca-Cola sal ook met hul musiekwa sorg vir 'n feestelike atmosfeer tydens die wedloop," sê Sidwell Oktober, erepresident van die klub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’