GEORGE NUUS - Die jaarlikse George Outeniqua-marathon word môre, Saterdag 26 April, weer aangebied. Hierdie gewilde wedloop is die oudste van sy soort aan die Tuinroete en word al vir meer as 40 jaar aangebied.
Daar word vanjaar 'n rekordgetal inskrywings verwag, met reeds meer as 1 100 inskrywings wat ontvang is.
Laat inskrywings vir alle wedlope (behalwe die 21,1 km en 42,2 km) sal vandag, Vrydag 24 April, tussen 16:00 en 21:00 by Cornerstone Blanco aanvaar word.
Geen laat inskrywings sal op Saterdag vir die 21,1 km of 42,2 km-wedlope aanvaar word nie. Atlete sal egter nog op die dag kan inskryf vir die 10 km en 5 km-pretloop, wat albei by die Wilderness Commonage begin en eindig.
Die 42,2 km-marathon begin by Cornerstone Blanco en volg 'n pragtige roete deur verskeie plase, insluitend Buffelplaas, en dan deur Blanco en George.
Die roete loop verder na die Tuinroete-dam, deur die kampus van die Nelson Mandela Universiteit, en neem dan die Sewe Passe-pad om by Wilderness Commonage te eindig.
Die 21,1 km begin op die damwal van die Tuinroete-dam, gaan ook deur die universiteitskampus en eindig by die Wilderness Commonage.
Die 10 km en 5 km-pretloop vind volledig plaas op die terrein van die Wilderness Commonage en is geskik vir gesinne en beginners.
Medaljes sal aan alle atlete wat hul wedloop voltooi uitgedeel word, en daar is prysgeld vir wenners in verskeie kategorieë.
Verder sal daar ook gelukstrekkings wees - onder andere tien pare hardloopskoene wat gewen kan word. Die prysuitdeling vind om 12:30 by die eindpunt plaas.
Vir meer inligting, kontak asseblief Esmé by 084 499 7753.
Die weer het verlede jaar mooi saamgespeel. Ons hoop dit doen vanjaar dieselfde wanneer atlete van heinde en verin George saamdrom vir die jaarlikse Outeniqua-marathon. Foto: Deidre Cloete
Outeniqua Harriers-atlete, Willard Jussah, Mona Thembalethu en Samuel Mandlazi, neem in vanjaar se marathon deel.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’