GEORGE ATLETIEKNUUS - 'n Groot eer het Miré Reinstorf, 'n voormalige SWD-atleet en leerling van Hoërskool Outeniqua te beurt geval.
Sy is opgeneem in Atletiek Suid-Afrika se o.20-span wat vanaf 17 tot 22 Augustus aan die o.20 Wêreldatletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenia gaan deelneem. Sy sal Suid-Afrika in paalspring verteenwoordig.
Reinstorf (18) het grootgeword in George en studeer op die oomblik aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Stellen-bosch. Sy word daar deur JP van As afgerig. Haar ouers, Vinia en Peter Reinstorf, woon steeds in George.
Sy het reeds op skool naam begin maak in die atletiekwêreld onder afrigting van Jacques Wolfaardt.
Reinstorf het aan George Herald gesê sy is baie opgewonde om in Kenia te gaan deelneem.
"Dit is die eerste keer dat ek internasionaal sal deelneem en dit is 'n groot geleentheid en voorreg vir my. Ons vertrek die 15de Augustus van OR Tambo. Ek is tans nog besig om te oefen ter voorbereiding vir die byeenkoms en het nog vier springsessies oor voordat ons vertrek."
Sy het in gr. 8 met paalspring begin. "My ma het my aangemoedig om te gaan kyk of ek daarvan hou. Ek het eers nie belanggestel nie, maar na my eerste oefening kon ek nie die paal neersit nie. Dit is 'n baie tegniese sport wat 'n kombinasie van spoed, krag en tegniek verg om oor die lat te kom. As jy al die aspekte bemeester en die dag is in jou guns, is dit nie so moeilik nie."
Haar ma, Vinia, het gesê sy en Peter is baie trots op hul dogter. "Sy kry die geleentheid en ons staan by haar. Dit het natuurlik ontwikkel. Jacques Wolfaardt het haar op skool afgerig en haar moontlikhede raakgesien, dit het baie gehelp."
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en 'n bekende in SWD-sportkringe, het gesê sy is baie trots oor Miré se opneming in die Suid-Afrikaanse span. "Dit is welverdiend. Ons wens haar baie sukses en voorspoed toe met haar atletiekloopbaan."
Miré in aksie. Sy sê paalspring is 'n baie tegniese sport wat 'n kombinasie van spoed, krag en tegniek verg om oor die lat te kom.
Miré se loopbaan
- In 2018 het Mire (o.18) Atletiek SWD by die ASA Jeug en Junior Kampioenskappe in Paarl verteenwoordig en 'n bronsmedalje verower. Sy het 3,40 m gespring.
- In 2019 (o.18) verower sy goud by die ASA Jeug en Junior kampioenskappe in die Paarl met 'n 3,60 m-sprong, asook goud by ASA Senior Kampioenskappe in Pretoria waar sy 3,80 m spring. In dieselfde jaar is sy ook in ASA se voorlopige span opgeneem, wat aan die Afrika Spele in Morocco sou deelneem. Die spele is ongelukkig gekanselleer. Sy is gedurende die tydperk deur Jacques Wolfaardt van Hoërskool Outeniqua afgerig. In dieselfde jaar is sy met haar uitstaande prestasies as Atletiek SWD se sportvrou van die jaar aangewys
- In 2021 verower sy goud by die Ussa (Universiteite) Kampioenskappe met 'n hoogte van 3,95 m. Sy ewenaar hierdie rekord van 'n ander Matie, Elmarie Gerryts. Sy verower ook weer goud by ASA Senior Kampioenskappe met 'n hoogte van 4,00 m.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'