Gallery
GEORGE NUUS - Atlete vanoor die land het verlede naweek na George opgetrek om aan Hoërskool Outeniqua se Kwagga Top-10 Atletiekbyeenkoms deel te neem.
Die gees onder die atlete en onnies was aansteeklik, en toeskouers het meegevoer geraak deur die kinders se jeugdige entoesiasme.
Dit is die eerste keer sedert die begin van die pandemie wat die byeenkoms weer gehou is. Altesaam 40 hoërskole en 22 laerskole het oor twee dae (21 en 22 Oktober) op die atletiekveld in baan en velditems meegeding. Skole het 'n geleentheid om hul toptien atlete in te skryf. Sommige skole het tot vyf spanne ingeskryf.
Volgens Hoërskool Outeniqua se sporthoof, Jacques Wolfaard, het bykans 1 200 atlete aan die geleentheid deelgeneem. "Ons bane was vol! Dit is fantasties om te sien hoe gewild atletiek steeds onder die leerders is," het hy gesê.
FOTOGALERY: Top-10 Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Outeniqua
Van die skole wat die verste gereis het, sluit in Hoërskool Dirkie Uys van Moorreesburg, Hoërskool Witteberg van Bethlehem in die Oos-Vrystaat en Hoërskool Beaufort-Wes.
Skoolhoof van HS Dirkie Uys, Hein Gunter, het grappenderwys gesê dis glad nie so ver nie: "Dis teedrink-afstand!" Sporthoof van HS Witteberg, DP Coetzee, het gesê hulle het sommer 'n klein vakansie van die geleentheid gemaak: "Ons het Dinsdagaand [18 Oktober] 22:00 uit Bethlehem vertrek, en die volgende dag in George aangekom, net betyds om die middag nog tyd op Wilderness se strand te spandeer. Die kinders het twee dae van strandkuier geniet voor die atletiek begin het."
Die atlete van Paarl Gimnasium was dankbaar vir die koeler weer oor die naweek: "In die Paarl gaan jy dood van die hitte, tannie!" Estelle Russouw van Hoër Meisieskool Bloemhof het beklemtoon hoe fantasties dit is om weer mense in ver dorpe te sien, na grendeltyd verby is. Larissa Lombard van Hoërskool Bredasdorp reken die blootstelling is wonderlik vir die kinders.
Hoërskool Bredasdorp se Top-10 Atletiekbyeenkoms vind hierdie naweek plaas. Volgens Lombard word talle spanne verwag vir die geleentheid, wat ook vir twee jaar weens Covid-19 nie kon plaasvind nie.
Die borge van die Kwagga Top-10 Atletiekbyeenkoms is Spar Wellington Square Spar, Elite Wealth Assets Insurance, Texas Grill, Safari en Lancet Pathologists. Van die leerders se ouers het ook ingespring en gehelp met borgskap vir blaaie in die programboekie.
Presteerders
Hoërskool Outeniqua span die kroon met hul punteprestasie as die beste groot skool vir die byeenkoms. Die beste klein skool is Glenwood House, ook van George. Die beste dogterspan is van La Rochelle in die Paarl en die beste seunspan is van Hoër Jongenskool Paarl.
Die beste dogters prestasie van die dag is toegeken aan Sydney Rothman (o. 15) van Hoër Meisieskool Paarl, en die beste seuns prestasie van die dag is toegeken aan Zian du Plessis (o. 15) van Hoërskool Outeniqua.
Die atletiek A-span van Hoërskool Outeniqua (top-10), saam met Dené Edwards (o.16, middel agter), wat uitgeblink het in spiesgooi met haar individuele prestasie. Voor is Deacon Cooper, Chanel Britz, Chad Campher. Middel: Madison O' Connell, Mieke Coetzee en Louis Fourie. Agter: Grante Savage, Zian du Plessis, Dené Edwards en Walter van Rensburg.
Beste individuele prestasie:
Dogters
- Dogters 14: Kylie Basson 90m Hekkies 924 punte - La Rochelle
- Dogters 15: Sydney Rothman paalspring 973 punte - Paarl Girls High
- Dogters 16: Dené Edwards spiesgooi 918 punte Outeniqua
- Dogters 17: Angle Petersen 100m 901 punte La Rochelle
Seuns
- Seuns 14 jaar: Walter van Rensburg gewigstoot 956 punte Outeniqua
- Seuns 15 jaar: Zian du Plessis gewigstoot 1086 punte Outeniqua
- Seuns 16 jaar: M Seekoei verspring 6, 95m 947 punte Daniël Pienaar
- Seuns 17 jaar: Jean Marais diskus 55,65m 921 punte Charlie Hofmeyer
• Beste dogtersprestasie van die dag: Sydney Rothman (Paarl Girls High)
• Beste seunsprestasie van die dag: Zian du Plessis ( Outeniqua)
Beste skole wenners
- Klein skole: Glenwood House
- Beste dogterspan: La Rochelle
- Beste seunspan: HJS Paarl
- Groot skole: Outeniqua
Atlete van Rhenish Girls High en Hoër Meisieskool Bloemhof het die meeste van hul tyd in George gemaak. Foto: Michelle Pienaar
Beste klein hoërskool van die byeenkoms is toegeken aan Glenwood House.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'