GEORGE ATHLETICS NEWS - 'n Lank gekoesterde Kwagga-droom kry nou vlerke met die aanbieding van die eerste Top10-atletiekbyeenkoms in George dié naweek.
Bykans 1 000 van Suid-Afrika se beste laer- en hoërskoolatlete van 39 skole neem van Vrydag af tot Saterdag by Hoërskool Outeniqua deel aan die Spar Kwagga Top10-byeenkoms ná maande se beplanning en harde werk.
Selfs skole uit Namibië en Gauteng gaan in aksie wees.
Ná die amptelike opening om 12:45 op Vrydag sal die laerskole van 13:00 af teen mekaar meeding. Die laaste item, die 200 m vir seuns o.13, is om 16:50 met die prysuitdeling om 17:15.
Die hoërskole se program open Saterdagoggend om 07:20 waarna die eerste items om 07:30 aan die beurt kom en die laaste een om 16:30 beslis word. Die prysuitdeling is om 16:50.
Christo Vorster, skoolhoof van Hoërskool Outeniqua, sê die Kwagga-droom om 'n eie Top 10-byeenkoms aan te bied het vir lank in die wind gehang, maar uiteindelik nou in 2019 sy vlerke gekry om te vlieg.
Hy het die wens uitgespreek dat die byeenkoms die begin van nog baie gaan wees.
Die byeenkoms is moontlik gemaak danksy ruim bydraes van die hoofborg, Spar Wellington Square, met Elite Wealth Assets Insurance (Old Mutual) as medeborg.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa news'