Gallery
GEORGE NUUS - Die 11-jarige Rowan Mafutu, gr. 6-leerder by Laerskool Outeniqua, het verlede Woensdagmiddag uitstaande prestasies gelewer by die jaarlikse Nashua Valentyns-byeenkoms.
Die leerders van Parkdene Primêr, Laerskool Hartenbos, Laerskool Blanco, Milkwood Primêr, Kretzenshoop, Van Reede, Laerskool Park, Holy Cross, Laerskool Wesbank, Laerskool George-Suid, Laerskool Hoekwil en Laerskool Volschenk het mekaar die stryd aangesê.
Nashua, wat langer as 10 jaar die byeenkoms borg, was weer die hoofborg.
Mafutu, wat in 2017 sesde was by die SA kampioenskappe, het die toeskouers op hul voete gehad toe hy op 'n nat, swaar grasbaan die 80 m en 100 m vir seuns o.11 in rekordtye van onderskeidelik (10:62) en (13:13) afgeblits het.
Rowan, wat as die beste seunsatleet van die byeenkoms aangewys is, is een van die beste jong naellopers in Suid-Afrika en daar word 'n blink toekoms vir hom voorspel.
Die 11-jarige Sharika September, gr. 6-leerder by Laerskool Park is as die beste dogtersatleet aangewys.
Sharika het in die o.11-ouderdomsgroep 'n driekuns behaal deur die 80 m (11:67), 100 m (14:41) en verspring (4,02 m) titels te buit.
Die talentvolle Kurt Coetzee van Laerskool Park het die hoogspring vir seuns o.12 in 'n nuwe rekord-hoogte van 1,38 m gewen.
Sharika September (Laerskool Park) is aangewys as die beste dogtersatleet en Rowan Mafutu (Laerskool Outeniqua) as die beste seunsatleet by die jaarlikse Nashua Valentyns-byeenkoms wat verlede Woensdag by Laerskool Outeniqua aangebied is. Angele Rooyakkers van die hoofborg, Nashua, het hul trofeë oorhandig. Foto's: Anton Gericke
Ander verdienstelike eerste plekke
Dogters o.10: Stephanie Syce (George-Suid) 70 m-hekkies (15:80), Anje van Niekerk (Laerskool Blanco) 800 m (3:04.00).
Seuns o.10: Daniël van Zyl (Outeniqua) 800 m (2:43.74).
Dogters o.12: Gillian Hector (George-Suid), 75 m-hekkies (13:64), Mckaylla Pypers (George-Suid) 800 m (2:40.58), Brumilda Snyman (Parkdene) 100 m (14:18) en 150 m (22:68).
Seuns o.12: Jordan Lindsay (George-Suid) 75 m-hekkies (13:67).
Seuns o.13: Ian de Jager (Outeniqua), 800 m (2:30.72), Spe Nzama (Outeniqua) 100 m (12:78) en 150 m (20:11).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'