GEORGE SPORT - Waar ander tieners dalk sou spog, bly Jaden Fourie, die 16-jarige spoed- en verspringwonder van Hoërskool Outeniqua, nederig en eerlik oor sy sukses.
“Hy’s ’n kind met sy voete stewig op die aarde,” sê sy pa én afrigter, Johnny Fourie. “Daar is nie ’n greintjie verwaandheid in hom nie - net ’n stille vasberadenheid om beter te word.”
By die onlangse Kwagga Top 10-atletiekbyeenkoms in Oudtshoorn het Jaden sy klas gewys: oortuigend gewen in beide die 100 m en 200 m, en die verspring gedomineer.
Maar dis nie net sy prestasies wat mense laat praat nie - dis sy houding.
Onderwysers beskryf hom as uiters beleefd, respekvol en doelgerig. “Hy is een van die mees welgemanierde jongmense wat ek nog ontmoet het,” sê een van sy onderwysers.
Selfs wanneer hy nie wen nie, bly sy glimlag breed en sy handdruk ferm.
“Hy laat sy dade op die baan die praatwerk doen,” vertel Johnny. “Baie jong atlete raak gou grootkop - en dis dan wanneer hulle val. Jaden se plat-op-die-aarde geaardheid maak hom nie net geliefd nie, maar ook ’n inspirasie vir ander.”
Jaden Fourie trek deur die lug met sy wensprong van 7.58 m in die verspring vir seuns o. 16 by die onlangse Kwagga Top 10-byeenkoms in Oudtshoorn. Foto: Hugo Redelinghuys
Kalm onder druk
Nog iets wat Jaden uitsonder, is sy vermoë om koelkop te bly wanneer die druk toeneem.
“Ek stres my dood as hy spring of hardloop,” lag Johnny, “maar Jaden bly houtgerus - gefokus, rustig, presies. Dit onderskei hom van sy mededingers.”
Hy stel ook hoë standaarde vir homself. By die Kwagga-byeenkoms het hy versoek om in dieselfde wedlope as die SA en ASA kampioene te hardloop - bloot omdat hy hom teen die beste wil meet. En hy het homself bewys.
Die pad na bo
Johnny het Jaden begin afrig toe hy agt jaar oud was - met een voorwaarde: “Ek sal jou help, maar jy moet 100% gee.”
Sedertdien gee Jaden 150% in alles wat hy aanpak.
Hy het aanvanklik ook rugby gespeel, maar die keuse moes gemaak word - en atletiek het gewen.
“Om iemand besonders te maak, verg spanwerk,” sê Johnny. “By Outeniqua word daardie beginsel - ’n skool vir elke kind - uitgeleef. Van die hoof, Christo Vorster, tot die afrigters en onderwysers - almal dra by. Hier word elke leerder gesien en geen versoek is ooit te groot of te klein nie.”
’n Voorbeeld? Toe die sand in die verspringput verkeerd was, is dit sonder huiwering teen R30 000 vervang - bloot om seker te maak Jaden en sy maats kan op hul beste presteer.
Grootse spanpoging
Johnny is gou om krediet te deel. “My vrou, Amelia, is die argitek agter die skerms. Sy hanteer alles van programmering tot probleemoplossing - sy hou die ratte aan die draai. Sonder haar sou ek en Jaden dit nie kon doen nie.”
Maar Jaden se grootste prestasie lê dalk nie in meters of sekondes nie, maar in sy vermoë om altyd die lat hoër te stel - letterlik én figuurlik.
Met sy nederigheid, ysterwil en pure talent is hy reeds besig om sy eie hoofstuk in Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis te skryf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’