GEORGE NUUS - In die atletiekwêreld is 'n atleet se nommer 'n sentimentele saak. As lid van 'n atletiekklub ontvang atlete elke seisoen 'n nommer en dis 'n ongeskrewe reël dat elkeen sy nommer behou.
Die legendariese Sampie Bezuidenhout van Outeniqua Harriers het verlede Woensdag, 28 Februarie, sy jare lange nommer-1 aan die huidige klubpresident, Duppie du Preez, oorhandig. Hierdie geskiedkundige oomblik het tydens die Outeniqua Harriers se weeklikse tydtoets plaasgevind.
Oom Sampie, soos hy bekendstaan, is 'n stigterslid van Outeniqua Harriers. "Hy het ook die eerste erelid van die klub geword," het Du Preez gesê.
"Hy was op sy dag 'n ware legende en sy prestasies as 'n padhardloopatleet spreek boekdele. Oom Sampie het onder meer twee silwermedaljes vir die Two Oceans-marathon ontvang, en drie silwermedaljes vir die Comrades-marathon. Hy het ook permanente nommers vir albei wedlope ontvang.
Dit gebeur nadat 'n atleet 'n wedloop meer as tien keer voltooi het."
Aangesien oom Sampie nie meer aktief aan wedlope deelneem nie, het hy gevoel dit is nou die regte tyd om sy nommer-1 aan Du Preez te oorhandig. Du Preez is sedert 1994 'n lid van die klub en 'n komiteelid vir meer as 28 jaar. Hy is Atletiek Suid-Westelike Distrik (ASWD) se nommer-2, en kluberelid nommer-5.
Outeniqua Harriers se nommer-1. Foto: Deidre Cloete
Outeniqua Harriers is die oudste atletiekklub in die Suid-Westelike distrik, daarom begin hul nommers by een. Hierdie nommers word jaarliks deur ASWD aan klubs uitgereik vir deelname aan padwedlope.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’