GEORGE NUUS - Na 'n suksesvolle 2024/25-seisoen staan Eden-tweekamp aan die voorpunt van wat moontlik sy besigste program nóg kan wees, met die 2025/26-seisoen wat reeds vroeg in Oktober 2025 afgeskop het.
Die hoogtepunt van die seisoen is ongetwyfeld wanneer Eden-tweekamp weer as gasheer optree vir die 49ste Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskappe, wat op 20 en 21 Maart in Oudtshoorn beslis word.
Dié gesogte byeenkoms plaas die Eden-distrik weer stewig op die nasionale sportkaart.
Benewens die SA kampioenskappe, sluit die program ook twee interprovinsiale byeenkomste in - die OP IP wat reeds op 1 November 2025 aangebied is, en Highgate IP op 7 Februarie. Daarby bied Eden-tweekamp ook twee proefbyeenkomste, vier ligabyeenkomste, die gewilde Wimpy-dubbelsbyeenkoms, die Eden-kampioenskappe, asook drie ontwikkelingsklinieke en 'n kapasiteitswerksessie aan.
Volgens Dave van der Walt, bedryfsbestuurder van Eden-tweekamp, verg so 'n uitgebreide program deeglike beplanning en samewerking.
"Om al die reëlings in plek te kry, word daar gereeld reëlingskomiteevergaderings gehou, onder meer die algemene jaar-vergadering wat op 15 Oktober 2025 plaasgevind het, en die strategiese beplanningsvergadering op 14 Januarie, om duidelike rigting aan die seisoen te gee," sê hy.
Dave van der Walt, bedryfsbestuurder van Eden-tweekamp.
Die tweekampseisoen strek vanaf 1 September tot einde April en bestaan uit twee dissiplines, naamlik hardloop (400 m tot 800 m) en swembadswem (25 m tot 100 m). Mans en vroue tussen die ouderdomme van sewe en 80-plus neem deel, wat tweekamp 'n ideale gesinsport maak en terselfdertyd waardevolle lewensvaardighede bevorder.
Van der Walt voeg by dat alle byeenkomste in Eden - uitgesonder die interprovinsiale byeenkomste - doelbewus op Dinsdagmiddae aangebied word. "Dit gee atlete die geleentheid om ook ander sportsoorte en aktiwiteite te beoefen," verduidelik hy.
Eden-tweekamp se uitvoerende bestuur, onder voorsitterskap van Stephnie McKay, beleef tans ongekende groei. Die unie handhaaf 'n lewendige Facebook-blad (edenbiathlon.co.za) sowel as 'n webtuiste (www.edenbiathlon.com) wat gereeld opgedateer word. Alle belangrike inligting oor opkomende byeenkomste en ander tweekampaktiwiteite word daar beskikbaar gestel.
Vir meer inligting, kontak Van der Walt by 082 773 4901.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’