Hy kon sy tyd van 2 uur 13 minute 21 sekondes heelwat verbeter het as hy in die pylvak na die eindstreep ook sy beste gegee het. Hy was duidelik bewus daarvan dat hy sy opponente ver agtergelaat het en het gemaklik tot die eindstreep gedraf om die R50 000 prysgeld in sy sak te steek.
Coolboy Ngamole was tweede in 2:14:29 en Benedict Moeng derde in 2:16:10.
Die vrouewedloop is gemaklik deur Charné Bosman gewen alhoewel haar tyd van 2:44:44 ook nie die vonke laat spat het nie.
Beter tye is oor die algemeen verwag omdat die weersomstandighede ideaal was met 'n roete wat redelik plat en gerieflik was om die rekords te jaag.
SWD se ervare hardlopers het veral goed gevaar en drie van hulle, Annatjie Botes, Mari Swiegelaar en Hermanus Jonkerman, het op die podium verskyn.
Botes het die meestervrouewedloop gewen terwyl Swiegelaar tweede was. Jonkerman was derde in die meestermanskategorie.
Bosman, die vroulike wenner van Gauteng-Noord, het ook 'n George-konneksie deurdat haar langafstandafrigter, Gerrie Coetzee, onderwyser van PW Botha Kollege is.
Coetzee rig ook verskeie ander kampioene via die internet af en het reeds verskeie suksesse met sy atlete behaal.
'n Paar van die top-atlete sluit René Kalmer, Riëtte van Blerk, Lesley Train en Marelize Retief in.
Jurgens Zwiegelaar, afrigter en spanbestuurder van die SWD-span, was duidelik trots op die groot getal atlete in sy span. Hulle het ’n totaal van 27 deelnemers gehad.
George-munisipaliteit sien die nasionale byeenkoms as ’n groot geleentheid vir die dorp en die Suid-Kaap. Die huidige burgemeester, Bazil Petrus, is dit eens dat George reg is vir groot dinge.
Hy meen dat díe soort geleenthede langtermynvoordele vir die dorp inhou.
Die president van SWD Atletiek, Shireen Noble, meen George is meer as reg om weer gasheer te speel vir ’n volgende marathonbyeenkoms.
Die wenners van die mansafdeling is van links Coolboy Ngamole, Lusapho April (Grens) en Benedict Moeng (GN).