GEORGE SPORT - Die Eden hoërskole atletiekspan, wat die naweek by Groenpunt-atletiekstadion in Kaapstad aan die Wes-Kaapse atletiek-kampioenskap deelgeneem het, het ten spyte van uiters moeilike omstandighede 67 medaljes ingepalm. Dit is 'n aansienlike sprong van die 42 en 49 medaljes wat die span onderskeidelik in 2023 en 2024 huis toe kon bring.
Atlete het ten spyte van min slaap en 'n busrit van sewe ure vóór deelname uitgestyg om as 'n span 23 goue, 22 silwer- en 22 bronsmedaljes te verower.
Reginald Mitchell, die interim voorsitter van Eden Skole Atletiek, skryf die span se sukses toe aan die harde werk wat die afrigters, atlete en onderwysers die afgelope 12 maande ingesit het. Die span was vanjaar ook groter.
Ten spyte hiervan glo Mitchell en Jannie Nel, die algemene bestuurder van die Eden hoërskole atletiekspan, asook 'n groot aantal ouers dat die atlete tog onderpresteer het weens moegheid as gevolg van omstrede vervoer- en akkommodasiereëlings.
'Swak organisasie' deur provinsie
Volgens Mitchell en Nel sou die atlete reeds Donderdagoggend, 13 Maart, vertrek het. Dit sou hulle genoeg tyd gegee het om te akklimatiseer en 'n goeie nagrus te kry voor die tweedagbyeenkoms op Vrydag en Saterdag. Mitchell voel dat atlete wat kans gegun word om uit te rus, beter presteer. 'n Kopseer wat die ander twee streekspanne, Westelike Provinsie en Boland, nie het nie weens die feit dat die byeenkoms jaar na jaar in hul eie agterplaas gehou word. Ongelukkig het dinge nie so uitgewerk nie.
Reginald Mitchell
Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport was verantwoordelik vir die atlete se vervoer en verblyf. Maar daar was teen verlede Woensdagmiddag nog geen reëlings vir die sowat 352 Eden-atlete getref nie.
Die span is uiteindelik Vrydagoggend omstreeks 04:00 in ongeveer 15 minibustaxis van verskeie plekke opgelaai om die sewe uur lange reis aan te pak. Hulle is reguit stadion toe om 12:30 te begin deelneem. Die program was oorspronklik veronderstel om 08:00 te begin, maar is uitgestel weens Eden se laat aankoms. Organiseerders moes dus twee dae se kompetisie in net 'n dag en 'n half indruk. Dit is dus verstaanbaar dat die program agtergeraak het.
Jannie Nel
Die atlete is eers Vrydagaand vir die eerste keer tussen 21:00 en 22:00 na hul blyplek by die koshuis in Wellington en die Wes-Kaapse Sportskool in Kuilsrivier geneem.
Saterdag se kompetisie het om 08:00 afgeskop. Alles het glad verloop, behalwe vir die skyfwerp en gewigstootitems wat 'n hok moes deel en dus nie oorvleuelend kon plaasvind nie. Dit het veroorsaak dat die byeenkoms drie ure laat, eers omstreeks 18:00, klaargemaak het.
Gevolglik het die Eden-atlete, wat dadelik die lang pad huis toe moes aanpak, eers ná middernag tuisgekom.
Mitchell was woedend oor die 'chaos'. Hy meen die swak organisasie het Eden se atlete van 'n gelyke geleentheid in die Wes-Kaap ontneem. Hy sê ook dat hierdie teleurstelling daartoe lei dat sekere kinders atletiek vir ander sporte soos rugby en netbal verruil, of selfs vir die strate. "Sport gee kinders iets anders om te doen. Maar as dit só gaan, mag sekere van daardie kinders ophou deelneem en teruggaan strate toe."
Nogtans het hy almal vir hul harde werk bedank en toegegee dat daar maar net sekere dinge is waaroor 'n mens nie beheer het nie.
Atlete van Hoër Tegniese Skool Eden, Ruben Naudé (seuns o. 18 spiesgooi en diskus), Luciano Mongo (seuns o. 14 1 500 m) en Christiano Weyers (seuns o.15 3 000 m).
Terugvoer van skole
Alhoewel die departementele verblyf vanjaar effens beter as verlede jaar was, was dit volgens verskeie bronne steeds substandaard.
Nel sê reguit hy is nie bereid om volgende jaar spanbestuurder te wees as hulle weer by die Wes-Kaapse Sportskool bly nie.
Van die storte het net koue water gehad, of geen water nie. Hy sê van die atlete se kamers het nie krag gehad nie, dus kon hulle nie hul selfone laai nie. Die kos was ook nie op standaard nie. Nel sê ontbyt het bestaan uit een Russian, twee gebakte eiers en 'n skeppie gebakte bone.
Hoër Tegniese Skool Eden se drie atlete het met privaat vervoer gereis en by 'n gastehuis in Milnerton tuisgegaan, berig George Herald-joernalis Michelle Pienaar.
"Hulle sou vanjaar met die vervoer reis wat deur die departement van kultuursake en sport gereël word, en in die koshuise tuisgaan, maar omdat van die ander atlete verlede jaar oor koue storte gekla het, het ons besluit om weer van 'n borgskap gebruik te maak om te verseker dat die kinders immers warm kan stort," het Louis Steyn, die skool se atletiekkoördineerder, gesê. Die HTS Eden-atlete se vervoer en verblyfkostes is deur Pro Granite geborg.
Al 13 atlete van Hoërskool George het van departementele vervoer gebruik gemaak. "Hulle het Vrydagoggend 04:00 vertrek en glo eers voor middernag die aand by die koshuis gearriveer, waar hulle aandete ontvang het," het die skool se sportkoördineerder, Rowan Jones, gesê.
Hoërskool Outeniqua se mediaskakel-beampte, Lindi Liebenberg, het gesê van hul leerders het met privaat vervoer gereis, en sommige met skoolbusse. Sy het geen klagtes ontvang nie.
Die atletiekhoof en afrigter van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, Quintin Bester, sê die skool sal nie weer aan hierdie byeenkoms deelneem nie.
"Hierdie was vir my die ergste wat ek nog ooit gesien het. Ek was vir baie jare by Vrystaat-atletiek betrokke, maar na hierdie laaste byeenkoms, gaan ons nie meer deelneem nie," het hy gesê.
Hoërskool Outeniqua se atlete voor hul vertrek na Groenpunt-atletiekstadion.
"Twee van ons leerders het die Vrydagaand toe hulle om 23:00 by hul akkommodasie aankom, nie beddens gehad om op te slaap nie. 'n Los matras is in 'n kamer gevind, en die meisies moes dit deel.
Toe ek met een van die seuns oor hul swak prestasie praat, het hy gesê dat hulle baie min slaap gehad het. Hulle het ná 'n geweldige lang dag op die pad en atletiekbaan eers 01:00 Saterdagoggend matrasse gekry om op te slaap. Dit gee drie ure se slaap vir die Vrydagaand, na die vroegoggend rit [04:00] met die bus na Kaapstad die oggend. Hulle moes 02:00 Vrydagoggend opstaan vir die reis."
Bester is omgekrap oor die feit dat hy twee meisies 04:00 Vrydagoggend in 'n informele nedersetting moes aflaai om op 'n taxi te klim.
"Al die reëlings het op nommer 99 verander. Ons het Woensdagmiddag nie geweet of daar vervoer en verblyf is of nie."
Op sosiale media het talle mense Eden-atletiek oor die kole gehaal oor die vervoerreëlings wat nie vroegtydig bevestig was nie, en die tekort aan alternatiewe reëlings.
Keeanu Arendse, 'n gr. 8-leerder aan Hoërskool George, het die eerste plek behaal vir seuns o. 14 tydens die 3 000 m-wedloop.
Departement reageer
Die departement van kultuursake en sport het maar skraps gereageer op gedetailleerde vrae wat George Herald aan hom gerig het. Die hoof van kommunikasie, Tania Colyn, verduidelik dat die departement atletiek in die Wes-Kaap sovêr moontlik ondersteun en dat hy reis- en akkommodasie-diensverskaffers verkry volgens reëlings wat deur Wes-Kaap Skole Atletiek getref word.
Volgens Colyn het die veranderinge aan die byeenkoms se program haakplekke in die voorsieningsketting veroorsaak ten opsigte van vervoer en verblyf.
Oor die kwessie dat Eden-atlete van 'n gelyke kans tot sukses ontneem word, het sy die volgende gesê: "Die departement ondersteun alle atlete regoor die provinsie deur middel van relevante beheerliggame en federasies.
"Ons beoog om dié liggame te ondersteun en te verseker dat deelnemers altyd tot die beste van hul vermoëns kan deelneem. Ons kommunikeer met ons vennote om te verseker dat reëlings tot deelnemers se beste voordeel getref word. Die departement sal aanhou om met alle sportliggame en federasies te werk om te verseker dat deelname op so 'n manier bestuur word dat kinders geleenthede gebied word om deel te neem."
Die volgende atlete van Van Kervel Skool is opgeneem in die Wes-Kaapse atletiekspan vir leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes (LSEN) wat vanaf 2 tot 5 April aan die SA skole-atletiekbyeenkoms in Bloemfontein gaan deelneem. Voor, van links is Brendon Kasanya, Letisha Nell, Gerhard Bouwer en Charné Thana. Agter: Ethan Harker, Oratile Mafrika, Liam Kasanya, Ryan London en Byron Kiewit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’