SKOLESPORT - Laerskool Outeniqua se Judah Spies (12) en sy ouer broer Pierre Spies (14) van Hoërskool Outeniqua het hul sporttalente die afgelope naweek by die SA tweekampkampioenskappe in Oudtshoorn ten toon gestel.
Judah het 'n silwermedalje in die o. 13-seunsafdeling behaal, terwyl Pierre in die o. 15-seunsafdeling goud gewen en terselfdertyd 'n nuwe SA rekord opgestel het.
Hul ma, Juanné Spies, sê dat dit vir haar baie spesiaal is om te sien hoe haar seuns in twee dissiplines uitblink.
"Ek dink wat tweekamp so wonderlik maak, is dat jy twee sportsoorte se dissiplines moet toepas. Hulle geniet die sport saam met al hul spanmaats baie. Beide seuns is harde werkers. Hulle skryf hul doelwitte neer en werk daarna. Hulle gee nie op nie en is baie vasberade en gedissiplineerd."
Albei broers het hierdie jaar uitdagings ervaar. Pierre het drie weke met griep in die bed gelê, terwyl Judah 'n heupbesering gehad het.
Tog het hulle deurgedruk en sterker teruggekom, sê hul ma. Beide swem by Garden Route Swim School, en hulle oefen gereeld saam om hul vaardighede in beide swem en hardloop te verbeter.
Judah (voor) duik sekuur vir sy swemafdeling.
"Ons woord vir die jaar is 'verantwoordelikheid'," sê Juanné.
"Met al hul oefening, ander sporte en skoolwerk moet hulle self verantwoordelikheid neem en werk na hul doelwitte. Ons as ouers lei, ondersteun en moedig hulle aan. Hulle weet dat hul talente en krag van die Here af kom en dat hul lewens Hom op en van die veld af moet eer."
Pierre in aksie in die swemafdeling.
Judah op die atletiekbaan. Foto's: SA Biathlon
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’