SKOLESPORT - Hoërskool Outeniqua se o. 19A-krieket-span het die afgelope naweek hul staal teen sterk teenstanders by die Wildeklawer Diamantveld T20-kriekettoernooi in Kimberley gewys en hul deelname met 'n oorwinning afgesluit.
Spanning op die veld
Op Saterdag 10 Oktober het die Kwaggas teen HTS Drostdy te staan gekom.
Drostdy het 209/4 aangeteken, waarna Outeniqua 98/2 behaal het. Drostdy het die wedstryd volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode (DLS) met ses lopies gewen.
Ross Taljaard het met 'n blitsige 33 lopies van slegs 11 balle uitgeblink, terwyl Daniel du Preez 33 van 26 balle en Hanno Swart 26 van 25 balle aangeteken het. Johalin Oosthuizen het twee paaltjies vir 40 lopies geneem.
In hul tweede wedstryd van die dag het Outeniqua 142/5 teen Eldoraigne aange-teken, waarvan Hanno 'n ongeëwenaarde 51 van 50 balle gemoker het. Daniel het 34 van 20 balle bygedra. Eldoraigne het met 144/5 die wedstryd met vyf paaltjies gewen.
Kwaggas veg terug
Sondag 11 Oktober het die Kwaggas egter teruggeveg en hul toernooi met 'n oorwinning teen Christian Brothers' College (CBC) afgesluit. CBC het 145/8 aangeteken, waarna Outeniqua 119/7 behaal en volgens die DLS-metode met drie paaltjies gewen het.
Dehan Meyer het 29 lopies van 22 balle aangeteken. Ross se 20 van 13 en Idan Balzun 17 van 15 was ook waardevolle bydraes. Ewald Terblanche, Ross en Nathan Best het elk twee paaltjies platgetrek.
Laaste wedstryd
Die laaste wedstryd was besonder emosioneel vir drie matrieks, Nathan Best, Wernich Cassel en Matthew Coleman, wat vir oulaas die Kwagga-kleure op die krieketveld gedra het.
Die skool het die drie spelers bedank vir hul jare se toewyding, elke oefening, wedstryd, lopie en paaltjie, en die trots waarmee hulle die Kwagga-wapen gedra het.
Matrieks in Kimberley: Matthew Coleman, Wernich Cassel en Nathan Best het vir oulaas die Kwagga-kleure op die krieketveld gedra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’