SKOLE NUUS - Die afskop van die nuwe rugbyseisoen by Hoërskool Outeniqua is Woensdagaand, 4 Maart, met 'n spesiale funksie gevier waar rugbyspanne, trotse ouers, borge en afrigters vir die aankondiging van die spankapteins bymekaargekom het.
Die borge van die rugbytruie was teenwoordig om die truie persoonlik aan elke span se kaptein en onderkaptein te oorhandig.
Groot opgewondenheid heers onder die spanne wat gereed is om die 2026-seisoen met erns aan te pak.
Elizma Meyer, ondervoorsitter van die Kwagga-rugbyondersteunersklub, het die borge bedank en beklemtoon dat Outeniqua, as een van die toprugbyskole in die land, finansieel sterk moet wees en oor 'n stewige ondersteuningsnetwerk moet beskik. Borge se bydraes is daarom van kardinale belang.
Abre Minnie, hoofafrigter, het ook 'n kort motiveringsboodskap met die spelers gedeel. "Wat jy insit, is wat jy uitkry, en ek weet julle het hard gewerk danksy ons afrigters," het hy gesê en die afrigters vir hulle harde werk agter die skerms bedank.
Die Kwaggas het die vorige seisoen onder die toptien skole in die land geëindig, wat as 'n groot aansporing vir vanjaar dien.
"Daar rus 'n groot verantwoordelikheid op elkeen se skouers. Baie sterkte vir die seisoen," het hy gesê.
JP Sharpe (naasregs) van Halfway Toyota, is een van die borge. By hom is, van links: AJ Hartman, Hubert Baard, Jhanco Botha (afrigter), Linus Pietersen, Jordan Fortuin en Asie Mbalekwa.
Twee trotse ma's saam met hulle rugbykinders: Wicus Venter (o. 14A-span) en sy ma Welma (links) en Wiehan Serfontein (o. 14A) en sy ma, Marelise.
Die hoofborg van die Kwaggas se rugbyondersteuners-klub is Bossa George. Hier is die eienaar, Marius van Stade (middel), by die klub se ondervoorsitter, Elizma Meyer, en voorsitter, Gys Green.
Matthew Prins, kaptein van die o.19A-span, se trotse ma, Marlene, het die bekendstelling bygewoon.
Lynnette Gouws is die trotse ma van twee uitblinkers op die rugbyveld: Aldo (links) wat uitdraf vir die O.19-eerstespan en Lian, eerstespanspeler vir die O.15's.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’